deur Toast Coetzer
Vroeë verslae het gelui dat dié twee manne van Stellenbosch soos ‘n ligte Fokofpolisiekar is – die permanente akoestiese weergawe. Ander weer het aangevoer hulle harmonise soos Simon & Garfunkel. Al sulke vooropgestelde idees word byna onmiddellik soos slapende skape deur ‘n knewel van ‘n rooikat afgemaak wanneer Om Te Kan die EP afskop:
“Goeiemôre en die dwelms skree nog fop genade!”
Die uitroepteken hier bo is my eie, maar jy kan sommer hoor hulle roep alles uit, so uitbundig en skynbaar moeiteloos vloei die songs van hul kitare en uit hul borskaste uit – ja, beide Pierre Greeff en Alwyn Kotzé speel kitaar én sing.
Dis ‘n moeilike naam van hulle daai, maar refreshingly so. Ek kan nie wag dat ‘n Engelse DJ iewers daaroor struikel wanneer hy niksvermoedend Disillusion of The Sun van die playlist af gespeel het en nou moet battle met ‘n vreemde ry letters soos ‘Lukraakketaar’ nie. ‘Lukraak’ skynbaar omdat hulle elke dag vat soos hy kom, elke vlietende gebeurtenis probeer bloots ry, al spring jy dan nou af net wanneer jy lus is, wanneer dit begin kak lyk, vervelig raak of wanneer daar ‘n mooier girl aan die ander kant van die straat verbystap as die een wat hier in jou hand sit en klop. Ketaar? ‘n Mengsel van kitaar en kommentaar, so sê hulle, en ek sal hulle woord vat daarop – dit maak in elk geval eenvoudige sin op daardie manier.
Terug na Om Te Kan – na die puik begin sit dit eenvoudig nie vir ‘n oomblik terug nie. Hul stemme vul mekaar deurentyd aan soos twee lesbiërs wat presies weet waar om aan mekaar te vat om hul tone (en die luisteraar s’n) te laat krul van die plesier*. Die tune is net 2 minute en 26 sekondes lank (niks op die album mors tyd nie), maar ruk in groot, soms verwarrende hale oor “niks soos om aan haar nek te ruik” na “obsene strewe na waarheid en liefde” wat jou met niks anders as ‘n goeie gevoel laat nie – sure, uitgespoel en eenkant gespoeg soos ‘n sad geryde gearbox, maar terselfdertyd gloeiend soos ‘n warmgenaaide lyf**.
Taranangi Junkie is ewe befok – en nie net omdat iemand my moes verduidelik presies wat taranangi is nie (ek’s ‘n onskuldige kerkganger, thanks Kabous, jou ou smokkelaar). Dis weereens die spoed wat verbyster hier, hoe ‘n storie van gesinsverbrokkeling, geloofsverwarring en dwelmprobleme soos ‘n Tintin-comic verbyvlieg, selfs 100% vrolik klink, maar tog die onderstroming van erns iewers behou – in fact, dit styf vasmaak met doringdraad.
Die tempo versag op die pedale met Dis Joune, ‘n liefdesliedjie if you will. “Ek kon nie sien hoe die mense / en die mure verdwyn nie” vervolg ‘n baie sterk tema van bedwelming – of dit nou d.m.v. liefde of drank of dwelms of ‘n oordaad van hierdie 150% strike-rate lewe is – en dan raak dit skielik so vinger-alleen in die dorre hartkuil met “vergewe my as ek nog broos is / hier’s al die stukkies / . / dis joune as jy dit wil hê” dat jy net die ouens wil gaan soek en ‘n simpatiedop vir hulle wil bestel.
“Waarheen gaan ons as ons doodgaan?” is die kernvraag in Passievol, ‘n blitstoer deur ‘n jongmens se alledaags-oorlaaide dagboek waarin net die hardste deur die white noise sigbaar word en regop staan vir aandag:
“Ek sal my siel aan die brand slaan”
“Hoe kan jy dink jy’s nie hier vir ‘n rede nie?”
“Niks wat jy koop kan jou gelukkig maak nie”
“So eks nou net ‘n monument opgerig om te herdenk”
Dís alles lyne wat jou ore maar kan opsnuif en bêre vir later, in daai oorvol folder van goeie-fok-hier-is-ons-wat-moet-ons-volgende-doen?
Die twee Engelse songs volg hierna – Disillusion dalk die beter van die twee, The Sun wat bietjie verval in cheesy rymery (ek fokken haat die woord rymelary) soos “picture perfect on the move / just like a sculpture in the Louvre”. Tog, lekker klavier (Disillusion) en sensitiewe omgang met tune en woorde maak dit heel geskik vir Engelse radiostasies en dit sal hulle loss wees as hulle nie hierdie optel nie. Radiostasies is mos maar pretty fucked up.
Te gou is dinge verby, maar Vergifnis is ‘n grandstand finish, ‘n drie in beseringstyd of dan ten minste ‘n los girl oppad uit nadat jy al lankal ophou soek het. Die woordspeling hier met “bewolkde”*** en “befokte” wys onmiddellik die (lirieke) ylheid van die Engelse songs uit (maar moenie ophou Engelse songs doen nie, dis goed om vir meer mense as net die Afrikaanses te sing) en boonop begin dit al te pragtig met “Fok jou, fok jou helde / ek is jou held”.
Julle is inderdaad befokte mense, ouens, so moenie stop nie.
PS. Die cover en sleeve design is sharp, ek sou net die agterste cover die voorste een gemaak het, want dis ver meer graphically engaging. Maar mooi.
* Sorry, maar die laai van kreatiewe vergelykings is dolleeg dié tyd van die jaar.
** Ditto.
*** Dis natuurlik ‘bewolkte’ en ‘befokte’, maar ek neem aan dis aspris en daar’s ‘n rede daarvoor. ‘n ‘d’ is ieder geval sterker as ‘n ‘t’.