Anders as verlede jaar toe pianiste die kompetisie oorheers het, het die verskillende musiekdissiplines meer tot hul reg gekom by die 22ste Sanlam- Nasionale Musiekkompetisie wat Vrydagaand (24/9) in Parow ten einde geloop het.

Die jong violis Bonolo Kgaile, ‘n produk van die Mangaung Strings-ontwikkelingsprojek in Bloemfontein en leerder by Hoërskool Sentraal, het verras en die kroon op haar betreklik kort musiekloopbaan gespan deur die goue medalje voor die ander finaliste se neuse weg te raap. Sy is ‘n student van Francois Henkins en het ook die strykers-afdelingsprys vir ontwikkelingskandidate gewen.
Kort op haar hakke, is Danielle Rossouw op klarinet en Henley Jun op klavier as gesamentlike wenners van die silwermedalje aangewys. Die pianiste Landi Schaap (11) van Lynnwood, Pretoria en student van Claudine van Breda, het haar prestasie van verlede jaar geëwenaar deur die bronsmedalje te verower.
Jun (12), van die Laerskool Rhenish op Stellenbosch en student van Mario Nell, het uit die bloute na vore getree en het ook die klavier-afdelingsprys ingepalm.
Rossouw (12), in Graad 7 by Laerskool Welgemoed in Bellville en student van of Leon Hartshorne van die Musieksentrum Hugo Lambrechts in Parow, het die afdeling vir hout-en koperblaasinstrumente gewen. Daarby het sy die prys vir die beste uitvoering van ‘n Suid-Afrikaanse komposisie gewen vir haar vertolking van Hendrik Hofmeyr se Canto Notturno en ook die Tygerberg-prys as die beste kandidaat wat deur ‘n lid van SAVMO: Tygerberg onderrig word.
Die ander twee afdelingspryse behoort aan:
• Nicholas Bosman (11, op viool) in Graad 5 by Mikro in Kuilsrivier en ‘n student van Elzaan Coetzee (Strykinstrumente); en
• Althea Steynberg (11, op blokfluit), ‘n student van Tiensie-Louise Lategan, van Roodepoort (Ander Instrumente).
Die kleine pianissie Iman Bulbulia (8) van die Laerskool Kingsmead in Johannesburg en ‘n student van Anna Chen, is aangewys as die belowendste student in die ouderdomsgroep 10 jaar en jonger.
Die pianiste Heleen Ferreira (12) van Laerskool Anton van Wouw, Pretoria (nog ‘n Van Breda-student) en Annerike du Plessis (11), Laerskool Lynnwood, Pretoria (student van Gisela Scriba), en die violis Inge Lubbe (12), St Mary’s DSG, Pretoria (student van Hester Wohlitz) het ook in die finale rondte van agt meegeding.
Afgesien van hul ander pryse, het die vier afdelingswenners elk ‘n Unisa-musiekbeurs ontvang vir hul volgende eksamen aan dié universiteit.
‘n Volwaardige afdeling vir studente wat in musiekontwikkelingsprogramme in agtergeblewe gebiede hul onderrig ontvang, is vanjaar ingestel. Afgesien van die strykersprys wat Kgaile in dié afdeling ontvang het, is sy aangewys as die belowendste kandidaat in dié groep. Omdat daar geen kandidate in die afdelings vir Klavier en Ander Instrumente ingeskryf was nie, is pryse in die ander twee instrument-afdelings verdubbel:
• Hout- en Koperblasers: Kelly-Ann Bailey (13, De Kuilen, Kuilsrivier) van die Silversands-ontwikkelingsprogram; en Chad Chetty (13, Laerskool Lawson Brown, Port Elizabeth) van die Eastern Cape Philharmonic Music Investment Project, albei op klarinet; en
• Strykers: Ramabole Rampeta (12, Laerskool Fauna, Bloemfontein) van Mangaung Strings op viool; en Sakie Ndala (13, Laerskool Mamelodi, Pretoria) op tjello.
Die kompetisie word jaarliks in vier afdelings (Klavier, Strykers, Hout- en Koperblaasinstrumente, en Ander Instrumente) deur die Tygerberg-tak van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Musiekonderwysers aangebied. Die deelnemers word by oudisies in die hoofsentra van die land gekeur.
Die oogmerk is om belowende jong musiekstudente te identifiseer en hulle reeds in ‘n vroeë stadium die geleentheid te bied om op nasionale vlak mee te ding. Die kompetisie is die enigste van dié aard in SA en was reeds vir verskeie jong plaaslike musici die eerste trappie op die pad na selfs internasionale roem en suksesvolle loopbane in musiek.
Die kompetisie is in die ouditorium by die Musieksentrum Hugo Lambrechts in Parow afgehandel. Die 70 deelnemers in die eerste twee rondtes is tot 23 vir die derde rondte afgeskaal voordat agt van hulle (vier pianiste, drie violiste en een op klarinet) mekaar in die laaste rondte die stryd aangesê het.
