Sempre Opera

Op Sondag 27 Maart 2011, het ʼn groep professionele operasangers, in Pretoria bymekaar gekom en ʼn niewinsgewende organisasie, Sempre Opera, wat ten doel het om geleenthede vir professionele operasangers te skep, tot stand gebring.

Die plan is om minder bekende operas regoor Suid-Afrika aan te bied, met die oog daarop om opera vir die algemene Suid-Afrikaanse publiek toeganklik te maak.

Nood leer bid en dit is presies wat ʼn groep professionele operasangers besluit het om te doen in die moeilike tye wat opera as kunsvorm in Suid-Afrika beleef. Hulle het byeengekom en besluit om die eerste tree te gee in die skep van werksgeleenthede vir hulleself.

“Die gedagte agter Sempre Opera is om op ʼn gereelde basis vollengte operas op te voer op verhoë regoor Suid-Afrika,” sê Stéfan Louw.

“Aanvanklik beplan ons korter operas met klavierbegeleiding op minder bekende verhoë in Gauteng, maar dit sal ʼn vollengte weergawe wees wat ʼn uitsonderlike hoë standaard sal handhaaf” vervolg Louw.

Die sangers gaan nie net alleenlik sing in die operas nie, maar sal ook saam verantwoordelik wees vir fondsinsameling, die bou van dekorstelle, die ontwerp van kostuums en ook bystand verleen met tegniese aspekte soos byvoorbeeld beligting. Louw bevestig dat wanneer sangers nie as soliste optree nie, hulle betrokke sal wees by die produksie by wyse van verhoogbestuurders, regisseurs, dirigente en sal hulle ook betrokke by die koor wees.

Die stigterslede bestaan uit 22 sangers, waarvan die meeste reeds uitgebreide opera-ervaring het. Daar is ook twee pianiste betrokke by hierdie groep.

Die internasionaal bekende Carla Pohl het by die groep aangesluit in ʼn raadgewende hoedanigheid en sal op Sempre Opera se artistieke bestuur dien. Sy verklaar entoesiasties, “Ek is so trots op hierdie dapper groep operasangers. In moeilike tye staan hulle saam, oortuig dat hulle onselfsugtige toewyding sal lei tot operaproduksies van uitstaande gehalte.”

Die lede van Sempre Opera sien daarna uit om hulle eerste produksie bekend te stel. “Dit gaan binnekort gebeur,” sê die sopraan Hanli Stapela, wat saam met haar mede-operasangers, nie kan wag om aan die eerste produksie te begin werk nie.

ʼn Opera wat deur toegewyde en passievolle professionele kunstenaars op die planke gesit word, gaan beslis ʼn geleentheid wees wat nie misgeloop moet word nie.

Sempre Opera

Foto: Agter (van links na regs): Marisa Louw (sopraan), Stephan Gericke (bariton), Welmien Coetzee (sopraan), Stéfan Louw (tenoor), Chris Mostert (tenoor) en Jean-Frederic Pienaar (tenoor).
Voor (van links na regs): Hanli Stapela (sopraan), Deirdré Blignaut (sopraan), Linette van der Merwe (mezzo) en Eileen van Zyl (sopraan).

Lewer kommentaar

Leave a Reply