So het hulle gesing

As die naam nie vir jou veel beteken nie, sal dit moeilik wees om te begryp waaroor hulle musiek eintlik gaan. As jy die naam ken sal jy óf jou ore spits, óf maak dat jy wegkom. Mens kan nie neutraal staan teenoor dié musiek nie.

Danksy die platemaatskappy Gallo is ‘n volledige versameling van die Briels se treffers, wat aanvanklik op 78opm en later op langspeelplate opgeneem is, nou op ‘n stel CD’s beskikbaar. Dit is sentimentele, ongekunstelde tranetrekkers wat omtrent almal in dieselfde, onmiskenbare styl gesing word en dit is so tipies van die 50-ger jare soos pienk ouderlingpilletjies en knypbrilletjies. Of jy nou tong in die kies daarna luister of ‘n traan wegpink, die Briels was die Abba van hulle dae.

Tot vandag toe bly hulle musiek gewild en op die Houtstok-musiekfees van 1990 was die oorblywende legendariese Briels – Sannie, Fransie en Anita (met haar vier kinders) van die gewildste musikante.

Volgens die CD-omslae was Frans en Sannie Briel albei weeshuiskinders wat later gewone mense was wat onder meer vir Yskor gewerk het – Sannie was self ook twee jaar ‘n hyskraandrywer daar – maar hulle groot passie was musiek. Hulle het nie so erg vertaalde Amerikaanse liedjies gesing nie, maar eerder die woorde en musiek vir hulle liedjies self geskryf. Hulle het ook sosiale kommentaar gelewer en veral die probleme van die verarmde, verstedelikte Afrikaner uitgebeeld. Terwyl 78opm plate tot in 1961 nog Suid-Afrika vervaardig is, het hulle meer as ‘n honderd opnames gemaak op die ou Pêrel plate-etiket. Hulle kinders Anita en Fransie het ook saam met hulle ouers en as sangpaar opnames gemaak en later het Anita ook verskeie solo langspeelplate die lig laat sien.

Die titels van die liedjies laat geen twyfel oor wat vir hulle belangrik was nie: “‘n Traan van droefheid”, “Die graf in die myn”, “Mammie is alles verby?”, “Kom haal my Pappie”, “Drie wit kissies”, “Daar rus my liefling” en dan natuurlik die onsterflike “Die trein na Pretoria”. Daar is reeds drie cd’s in die So het hulle gesing-reeks met onderskeidelik 29, 30 en 32 snitte op elk.

Lewer kommentaar

Leave a Reply