Anton Goosen is al meer as 20 jaar aan die gang. Hy het suksesvol uit al die kassies geklim waarin musiekkritici en joernaliste hom probeer druk het en hy doen eenvoudig sy eie ding – soos nou weer op putonnerwater. Of om die CD se volledige titel the gee: putonnerwater 21 unreleased songs en greatest hits vol 2. Net so.
Die treffer-snitte wat mens sal verwag is op die CD: “Hanoverstraat” – nou in ‘n meer Kaapse baadjie en Hênnowerstraat uitgespreek; “Jantjie”, met ‘n voller simfonieverwerking as die weergawe wat in die vroeë 80-jare op die trefferparades was; “Boy van die suburbs”, nou met ‘n lekker ruk-en-rol/bop-ritme, hoewel mens die brul van die 1 000cc’s mis, wat op die bekende meng die meisies lam gemaak het; “Die Kaap is weer Hollands”, “Trompie” en “Ouma se warm kombuis” in hulle bekende weergawes, en ‘n interessante verwerking van die pragtige “Die mense wat ek liefhet”.
Dan’s daar ook keurspele (“medleys”, soos die omslag sê) van “Blommetjie-gedenk-aan-my/Mari van Okanjaberg/Byeboerwa/Harlekyn” en “Kruidjie-roer-my-nie/Ta’ Mossie/Deurdruk dag toe!”, wat mens effens onverhoeds vang met die oorgange, maar ‘n paar strofes van “Byeboerwa” is seker ook genoeg.
Mens mis “Waterblommetjies” – veral as jy ‘n Kapenaar is, of Kaap-toe verlang, maar dit is seker op “Greatest hits vol 1” beskikbaar.
Dis die minder bekende snitte op dié cd wat die meeste plesier gee. Die openingsnit, “Die seewater is blou” se wysie spook by jou, soos Johannes Kerkorrel se “Al lê die berge nog so blou”, en die manne wat vir die agtergrondsang sorg, weet wat hulle doen. En die hoogtepunt van die album is beslis die pragtige liefdesliedjie “Om te breyten”. Soos mens kan aflei, verskaf Breyten Breytenbach die woorde vir dié nommer. Terloops, een ding wat Anton Goosen bo baie ander Afrikaanse sangers laat uitstaan, is die feit dat hy self sorg vir die woorde en musiek van die meeste van sy nommers. Onder al die ander snitte het hy net hulp gekry van Stephan Bouwer met “Die mense wat ek liefhet” en Fanus Rautenbach met “Tweebuffelsmeteenskootmorsdoodgeskietfontein”, wat baie makliker is om te sing as om te skryf.
Twee vaal kolle: Mens vermoed dat dit belangrik is om die woorde te kan hoor op snitte soos “Riviersonderend” en “Voete van Johannesburg”, maar die balans tussen die stem en die begeleiding maak dit moeilik. Dit werk miskien beter in ‘n klankdigte ateljee met reuse luidsprekers, maar die meeste mense sal tog sekerlik op kleiner klankstelle of in die motor luister. Die woorde is ook ongelukkig nie op die omslag nie. En dan’s dit jammer dat “Ouma se warm kombuis” en “Die mense wat ek liefhet” se snitnommers op die omslag omgeruil is – veral omdat mense meer as een keer na laasgenoemde wil luister.
Maar dis kleiner probleempies. Oor die algemeen is putonnerwater ‘n aanwins. Lekker om na te luister by die braaivleisvuur of op die lang pad – veral omdat mens dikwels kan saamneurie.