Die afgelope paar jaar het daar ‘n nuwe belangstelling posgevat in Afrikaanse musiek en liriek. Skielik was daar ook belangstelling in albums wat geheel en al bestaan uit toonsettings van poësie. Philip Nel se soos goeie wyn bestaan uit bekende verse wat deur hom vertolk word.
Philip Nel het jare lank Letterkunde-onderrig gegee en het slegs in sy vrye tyd aandag gegee aan klawerspel en komposisies. So was hy verantwoordelik vir Gé Korsten se “Weerman”, Lucas Maree se “Ou Vriende” en “Ou Klavier” gesing deur Anneli van Rooyen.
Die gepaste musiek op soos goeie wyn laat geen twyfel oor Philip Nel se talent nie. “Op Hartebeesfontein” se lekker ligte luim laat jou onwillekeurig onder die indruk dat Nel en die digter saam gewerk het, dis nou as dit nie was dat die gedig dateer uit 1898 nie.
Eugene Marais se “Die Dans van die Reën” klink soos Afrika en die Afrika-stemme in die agtergrond benadruk Marais se woorde. ‘n Ander gunsteling van my op die album is ook ‘n Marais gedig, “Die Towenares”.
Indien jy nog nie oortuig is van Nel se talent by die tyd dat jy by George H. Weideman se natuurgedig “Blom daar sporrie” kom nie, sal jy wees daarna. Nel se verwerking maak die gedig sy eie.
Ander musikante kan gerus ‘n oor gooi in die rigting van soos goeie wyn. Die omvang van sy musikale verwerkings wat op die album ten toon gestel word laat jou wonder hoekom ander kunstenaars nie meer van sy dienste gebruik maak nie. Aai, hoe sal Philip Nel se verwerking van Peter Snyders se “Ek is oek important” nie klink in die hande van Delta Blue nie (aangesien Tom Waits nie Afrikaans magtig is nie)! Wat van Amanda Strydom vir die Die Katel van Boerneef?
Volgens Philip Nel se bio het hy die gedigte gekies om meer toeganklik te wees vir almal veral jong mense wat deesdae hulle roots naspoor en waardeer. Ek sou eerder wou sê dat Nel se toonsettings enige Afrikaanse poësie toeganklik kan maak. Daar lê wel ‘n kloof tussen sy stem en die gedigte, maar hy kan vergewe word aangesien sy musiek in meeste gevalle heel gepas is.
Goed om te weet hy werk reeds aan ‘n tweede album.
Discover more from Roekeloos.co.za
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
