Makietie

Dis Jakkie Louw se debuutalbum dié en die spesiale vakansiedemo van 40 kopieë het dadelik uitverkoop tydens sy toer die afgelope vakansie. ‘n Braaivleissanger by uitstek hierdie, sê sy musiekmaatskappy Afrimusik, maar ook iemand wat mooi liefdesliedjies by die kuierplek Bohemia kan sing sonder om te bloos.

Jakkie is nie skaam om te sing nie, en ook nie skaam om te erken dat hy sy musiek nog ver wil neem nie. En niks gaan hom keer nie.

Jakkie is gretig, hy is bereid om hard te werk, hy wil sing en speel, en dit dan ook doen. Enige plek, enige tyd. En sy liedjies het woema, dit vertel stories, hy vertel stories tussendeur en mense luister. Die wat nie daarvan hou nie pla hom ook nie veel nie.

Natuurlik klink hy so ‘n bietjie soos Koos, maar dis eerder omdat hy op dieselfde terrein beweeg as dat hy aspris vir Koos na-aap. Hy is nie Koos nie, hy is Jakkie Louw. En dis net ‘n kwessie van tyd voordat hy totaal sy eie musikale identiteit sal vestig.

Jakkie Louw doen as B.Comm-student sy eerste toer van die Wes-Kaap as steun vir Koos Kombuis. In die Kaap is geen jol meer dieselfde sonder Jakkie se vonkel-in-die-oog-musiek nie.

Hy sing en speel bekfluitjie saam met sy kitaar. Hy sing lekker kuierliedjies, en hy sing ook romantiese materiaal. Liedjies vir en oor meisies en drinkliedjies, partykeer sommer altwee saam:
“ek en jy en ‘n bottel Tas
altyd gedeel in een glas”

Nee, weer nie Kombuis nie, dis Jakkie Louw, ook geborg deur Tassenberg. Hy is nuut op die jol/maar sy sale sit vol. Sy vinnige ritme en sy energie is soos ‘n rave in Afrikaans – met woorde, en die woorde is so beskrywend dat dit elke oud-student raak waar dit saakmaak, en elke ander pel ken ook die stories wat hy vertel.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar