SQQ is ‘n belewenis

As daar ‘n groep is wat Afrika en die Westerse wêreld laat hande vat, is dit Soweto String Quartet. As jy nog nie met hulle musiek kennis gemaak het nie, is hulle derde cd, Millenia, net die ding vir jou.

Dis klassieke musiek met sterk invloede van township jazz, tradisionele Afrika-ritmes en jazz fusie en dis musiek wat net in Afrika gemaak kon gewees het.

Hulle uitvoering in die Royal Festival Hall in Londen het vol sale getrek en in Amerika word hulle CD’s gereeld op radio- en tv-stasies gespeel. In Suid-Afrika is hulle uitvoerings natuurlik sonder uitsondering uitverkoop.

Die vier lede van SSQ het ‘n ver pad gestap vandat die eerste violis en musikale direkteur, Sandile Khemese, as jong man in Soweto besluit het om sy eie strykkwartet te stig. Hy en sy jonger broer, Reuben het in 1978 in hulle vrye tyd begin oefen en opgetree waar hulle kon.

Hulle vertel dat hulle vriende maar gefrons het oor die vreemde instrumente wat hulle bespeel het, maar vir hulle was dit heel natuurlik om heel nag na die musiek van Mozart en Haydn te luister.

Daar is in Soweto inderwaarheid ‘n sterk klassieke musiektradisie en ‘n Jeugorkes en en ‘n Simfonieorkes wat klassieke en Afrika-tradisies bymekaarbring bestaan al 30-jaar lank daar. Sandile het in albei orkeste gespeel.

Hy het musiek bestudeer aan die Manchester Royal Northern College of Music, maar toe hy in 1986 na Suid-Afrika terugkeer, was daar nie vir hom plek in die spierwit Nasionale Simfonieorkes nie. (Op ‘n wrede manier miskien ‘n goeie ding, want anders het ons dalk nooit die vreugde van SSQ gehad nie.

Sandile, sy twee broers, Reuben (tjello) en Thami (tweede viool) en ‘n ou vriend, Makhosini Mnguni (altviool) het ‘n strykkwartet gevorm. Vir ‘n tyd lank moes hulle nog bedags werk, maar die woord het gou versprei dat hulle lewendige optredes nie misgeloop moet word nie.

Toe hulle in 1992 professionele musikante geword het, moes hulle ‘n ruk lank by Sun City werk, maar gelukkig was die dramatiese veranderinge in Suid-Afrika toe reeds goed oppad. Hulle eerste twee albums, Zebra Crossing en Renaissance, het resensente en die publiek gaande gehad en nou is daar Millenia.

Dit hoort op jou CD-rak en in jou CD-speler en daar’s seker nie ‘n beter geskenk vir iemand in die buiteland wat na Afrika en Suid-Afrika verlang nie.

Lewer kommentaar

Leave a Reply