Stemme van ver

´n Eerste in Suid-Afrika en ´n eerste in Afrikaans! Gregorian Chants het die afgelope paar jaar baie gewild geword – en nou kan jy ook na van ons gewildste Afrikaanse liedjies in die eg Gregoriaanse-styl luister.

Daar is tradisionele Afrikaanse liedjies soos “Al lê die berge nog so blou”, die meesleurende “Hoor jy my stem oor die see”, en twee van Koos du Plessis se groot treffers “Sprokie vir ´n stadskind” en “Kinders van die wind”.

Gé Korsten se groot gunsteling “Liefling” en Gert van Tonder se “Sproetjies” (wat Sias Reyneke bekend gemaak het) kry ook nuwe betekenis in die Gregoriaanse-styl.

Daar’s ook ´n paar ander Engelse gunstelinge soos ABBA se “I have a dream”, “Sailing”, Bette Midler se “From a Distance”, Elton John se “Sacrifice”, Paul Simon se “Sounds of Silence”, Randy Goodrum se “You Needed Me” en Andrew Lloyd Weber en Charles Hart se “The Music of the Night”.

Nog ´n bonus is ons plaaslike groep Coleske se “My Only” wat in die Gregoriaanse styl uitgevoer word. Sarah McLachlan se “Angel” (die tema van die TV-reeks City of Angels) kry ook ´n nuwe Gregoriaanse-baadjie.

Moderne digitale tegnologie is gebruik om die album op te neem. Sekere klanke – soos die dromklanke – is van oorsee ingevoer. ´n Koor – wat bekend staan as Gregoria – se stemme is saam met die Gregoriaanse klanke verweef en die produk is meesleurend en harmonieus.

Die album beloof om ´n groot gunsteling by oud en jonk te wees. Luister gerus na die unieke Gregoriaanse klanke wat jou onmiddellik in ´n rustige en ontspanne luim sal plaas.

Gregoria – Stemme van ver word uitgereik deur Select Musiek.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar