PHILADELPHIA – Bel jou bankbestuurder en haal solank jou beste sonbril uit. The Black Coffee Weekender is om die draai. ’n Driedaagse kultuur- en musiekfees wanneer Kaapstad voorgee hulle is Ibiza, net met beter wyn. Dis waar almal beter aangetrek is as jy en ’n VIP-bandjie meer werd is as ’n staatskontrak.
Die kurator? Niemand minder nie as die Grammy-wenner, wêreldburger en plaaslike trots, Black Coffee. Die spesiale gas is Peggy Gou, internasionale DJ, vervaardiger en mode-ikoon, wat vir die eerste keer kom kyk hoe lyk die suidpunt van Afrika.
En jy dink dis al? Asseblief! Heelwat kunstenaars moet nog bekendgemaak word – dis die musiekwêreld se manier om te sê: “bly nuuskierig en hou jou kredietkaart warm.”
Waar speel dit af? By die Cape Town Ostrich Ranch – want niks sê wêreldklas elektronika soos ’n volstruisplaas met uitstekende sonsondergange nie.
Wanneer? 27 Februarie tot 1 Maart.
Pryse begin by R2 000 – wat basies ’n belegging is in kultuur, klank en die reg om te sê: “Ons was daar!”

