Coenie de Villiers keer vir Valentynsdag terug na die Drostdy-teater in Stellenbosch met ‘n program ter ere van die liefde – op die einste dag wanneer die liefde wêreldwyd gevier en besing word! Dis ‘n gepaste dag en kunstenaar vir ‘n konsert oor die liefde in al sy fasette.
Aanhangers van Coenie se werk ken hom as die skepper van van die mooiste liefdesliedere in Afrikaans. Uit sy pen en onder sy vingers vloei van die treffendste liriek en musiek oor die liefde, die liefde in al sy gedaantes. Daar is liedere wat wonder oor die aard van die liefde en komposisies wat die skoonheid daarvan besing. Maar dan is daar ook van die mees aangrypende werk in Afrikaans wat die verlies van liefde vasvang; wat sin maak van daardie ontwykende vlinder van geluk. In hierdie eenmalige Valentynskonsert delf Coenie de Villiers vir die eerste keer diep in hierdie liedereskat om sy liefdesliedere in ‘n enkele vertoning met ‘n gehoor te deel. Moet dit nie misloop nie!
Drostdy-teater, Stellenbosch, Vrydag 14 Februarie, 20h15