deur Bertus Loggenberg
Doepie du Preez vat ’n blaaskans en leun op sy graaf. Die sweet tap hom af en hy probeer weer om die egste stroompies van sy gesig af te vee maar albei sy moue is reeds deurdrenk. Gate grawe op sy ouderdom is verseker nie vir sissies nie, maar hy moet deurdruk, hy is amper daar. Hy knyp sy een oog toe en bekyk die gat in die lig van sy kopflits. Dit moet darem seker al ’n goeie vyf voet wees. Die grond is genadiglik klam hier onder en die grouery gaan al beter.
Na hy nog so ’n voet of wat gegrawe het, gooi hy die graaf uit die gat en klim stadig teen die leer op. Gelukkig was hy nie onnosel genoeg om homself in die gat vas te grou nie. Hy lag by homself. Hierdie ding het hy slim beplan en hy kan nie wag om by die huis te kom en in die stort te klim nie.
Hy stap na sy bakkie en slaan die kampstoel oop langs die bakkie. Bo-op die koelboks op die agtersitplek maak hy vir hom ’n KWV tien jaar en Coke aan – met baie ys, nes hy daarvan hou. Die ruskans is welkom en hy strek hom behaaglik op die stoel uit voor hy die eerste sluk vat. Sy sigarette lê nog in die bakkie maar hy is nou te moeg om op te staan. Hy het die goed vir vyftien jaar gelos, nog ’n halfuur sal hom nie doodmaak nie.
Toe die son se glimmering begin verskyn maak hy die klap van die bakkie oop.
“Kom Martha,” sê hy.
Hy gryp die hoek van die rooi grondseil en trek die hele spul van die laaibak af. Dit val agter die bakkie. Steun steun sleep hy die bondel tot by die gat.
“Totsiens Martha,” sê hy voor hy die bondel met sy voet by die gat inrol.
Die spul tuimel na onder en beland met ’n dowwe plofslag onder in die gat. Doepie knik tevrede. Hy sleep-dra twee sakke kalk tot by die gat en gebruik die graaf om die inhoud in die gat te versprei voordat hy die gat begin toegooi.
Dan eers ’n sigaret uit die bakkie. Nee, hy kan nie nog ’n dop drink nie, hy kan nie bekostig om vandag afgetrek te word nie. Fok dit. ’n Tweede brandewyn en Coke en nog ’n sigaret verskyn. Dan beskou hy die omgewoelde grond in die goue oggendlig vanuit sy kampstoel.
Sy gedagtes gaan terug na die vorige dag. Martha het hom gister al vroeg voor stok gekry oor die brandewyn. Vir die soveelste keer. Hoe meer hy protesteer dat hy net drie doppe gedrink het die vorige aand, hoe meer het sy tekere gegaan en geskreeu.
“Jy is net so verslaaf aan hierdie drank soos wat jy was aan daai sigarette!”
“Ek het opgehou rook Martha. Vir jou. Vyftien jaar terug.”
“Dan kan jy mos die drank ook los! Dis nou te sê as jy nie nog skelm rook ook nie.”
“Ek kan ophou ja, Maklik. Maar dan is daar geen doel meer in my lewe nie. Ek drink om van jou ’n beter mens te maak.”
Na die uitbarsting het Doepie die Valentynsdag-blomme aan haar gegee. Sy het woordeloos ’n ommekeer gemaak en dit net so in die asblik gesmyt. Laatmiddag maak hy mieliepap en braai vleis wat hulle in doodse stilte eet. Kosbare wondersoete stilte.
Na ete keer sy hom in die kombuis vas.
“Hoekom kan jy nie soos ander mans ’n honderdduisend rand ’n maand maak nie? Jy is nie net dom nie, maar lui boonop! Jy gee my migraine so ek gaan lê.”
Doepie het nie reageer nie, maar net voortgegaan om die skottelgoed te was en af te droog. Hy reageer lankal nie meer op haar gemeenheid nie. Miskien is hy wel lui maar sy het nie die reg om hom af te kraak net omdat sy geleerdheid het nie. Daar is min diesel mechanics wat amptelik hul ambag voltooi het en hy is trots daarop. Sy sal dit nog agterkom.
Daar is darem niks so perfek soos die uitspansel wanneer jy in die Bosveld is nie en hy verlang na sy jong dae op die plaas. Hy is nou maar eenmaal nie uitgeknip vir die stadslewe nie, maar Martha het geweier dat hy voortboer op sy Pa se plaas. Die grond is na sy neef wat dit binne ’n paar jaar onder sy gat uitgesuip het. Doepie se heksleutel het gelukkig nog gewerk toe hy vroeër vanaand hier ingery het.
Selfbeheersing was nog altyd een van sy beste eienskappe maar vandag was net te veel. Hy voel nog haar sagtheid onder sy hande, vel soos dié van ’n oumens. Sy duime wat al stywer beur teen haar strottehoof. Sy was lankal weg maar hy het net bly druk, sy werkershande te sterk om haar lewe te spaar.
