Op die ouderdom van ses het Alwyn Oberholster sy passie vir musiek ontdek en so het sy sangloopbaan begin.  Nadat hy in verskeie sangkompetisies deelgeneem het en nadat hy die “pub scene” behoorlik gedoen het, het hy besluit om die teater te betree.

In Beautiful Noise bring Alwyn hulde aan die legendariese Neil Diamond en sal gehore bekende liedjies soos “Sweet Caroline”, “I am, I said”, “Kentucky Woman” en natuurlik “Beautiful Noise” kan geniet.  Beautiful Noise met Alwyn Oberholster word op Sondag, 28 Junie 2020 om 17h00 as een van Lefra se Kelderkonserte regstreeks aanlyn uitgesaai.  Kaartjies kos slegs R70.00 per huishouding om die volle produksie in jou eie sitkamer te geniet.  Besprekings kan gedoen word by www.itickets.co.za.  Omdat kaartjies vir die hele gesin so goedkoop is, is daar ook ‘n donasie-opsie as jy bespreek om kunstenaars in Suid-Afrika te help.

Alwyn is gewild en bekend onder gehore vir sy briljante vertolking van die ouer treffers deur sangers soos Billy Joel, Neil Diamond, Allen Jackson, die Staccatos, die Bee Gees en vele meer, maar Neil Diamond bly sy gunsteling.  “Ek is mal oor die musiek van Neil Diamond en ken seker elke liewe liedjies wat hy ooit geskryf het.  En my stem pas die Neil Diamond liedjies ook soos ‘n handskoen.  Ek probeer nie soos Neil Diamond sing nie – daar is net een Mnr.  Diamond – so ek gee my eie vertolking aan die liedjies,” sê Alwyn.

Neil Leslie Diamond is op 24 Januarie 1941 gebore en word groot in ‘n arm woonbuurt van Brooklyn.  Sy grootste geskenk kry hy van sy ouers toe hy 16 jaar oud was – sy eerste kitaar.  Met hierdie kitaar het hy begin om sy groot treffers soos “I am a Believer”, “Kentucky Woman” en “Sweet Caroline” te skryf.  Superster Neil Diamond het reeds meer as 125 miljoen albums wêreldwyd verkoop en bly gewild onder oud en jonk.  Frans Swart, Besturende Direkteur van Lefra Produksies, sê hy is baie opgewonde oor Alwyn Oberholster se Beautiful Noise as een van die Lefra Kelderkonserte.  “Ons teatermakers moes vinnig buite die kassie begin dink en ons was baie verbaas oor die goeie reaksie wat ons op ons Kelderkonserte ontvang.  Dit word elke Sondag om 17:00 regstreeks aanlyn en digitaal vir die hele familie aangebied en dis vir my so lekker dat gesinne saamkom en iets groots maak van die konsert.  Onthou ons Kelderkonserte is konserte soos wat jy dit in ‘n teater sou sien.  Ek glo ons interaktiewe aanslag dat gehore direk met ons kan kommunikeer, dra ook by tot die sukses van die Lefra Kelderkonserte,” sê Swart.

Wen toegang tot Lefra se kelderkonserte bied aan: Beautiful Noise met Alwyn Oberholster

Een leser kan toegang wen tot Beautiful Noise met Alwyn Oberholster se aanlynvertoning op Sondag, 28 Junie 2020 om 17h00.   Om deel te neem aan Roekeloos.co.za en Lefra se kompetisie, kan jy die volgende na 33000 SMS: LEFRA ALWYN ROEKELOOS, dan JOU NAAM EN VAN en dan JOU STAD OF DORP.  Dieselfde inligting kan ook per epos gestuur word aan wen@lefra.com met LEFRA & ROEKELOOS ALWYN KOMPETISIE as onderwerp.  Wenners sal telefonies gekontak word en die beslissing van die Redakteur is finaal.  SMS’e kos R1,50 elk.

Lewer kommentaar

Leave a Reply