Die Amerikaanse Countrylegende Charlie Pride het een keer genoem:
“It isn’t reasonable to expect that everyone in the world is a Country music fan.”
En toe met ‘n glimlag bygevoeg: “Not yet, anyway.”
Aanhangers van Country-musiek en musiekliefhebbers in die algemeen kan gerus kennis neem van West, die nuwe treffergroep bestaande uit Ernie Bates (van Overtone-faam), Mac Young en Hugo Hewitt.
Die driemanskap blaas nuwe lewe in Countrymusiek met hulle harmonieuse vertolking van Countrytreffers wat nie net gesoute aanhangers tevrede sal stel nie, maar ook van ‘n nuwe generasie aanhangers maak.
Dis dan ook heel gepas dat Charlie Pride se “I’m So Afraid of Losing You Again” een van die treffers is wat op West se eerste CD verskyn.
Ernie Bates is natuurlik geen onbekende in Suid-Afrika nie. Hy is ‘n internasionaal bekroonde musiekvervaardiger, verwerker, musikant, sanger en TV-ster, en is reeds die afgelope twee dekades in die musiekbedryf en het wêreldwyd groot sukses behaal.
Ernie was deel van die Suid-Afrikaanse acapella – groep Overtone, wat in in 2009 ‘n huishoudelike naam geword nadat hulle in die Warner Brothers-film Invictus, met Morgan Freeman, Matt Damon en regie deur Clint Eastwood, te hore was.
Ernie het nege liedjies vir die rolprent verwerk en vervaardig en saam met die wêreldbekende rolprentmusiekvervaardigers Mark Mancina, Michael Stevens en Kyle Eastwood gewerk. Ovetone het die ganse klankbaan vir die film gesing. Die groep was ook saam met die Eastwood-gesin in die E! Entertainment realiteitsprogram Mrs. Eastwood and Company te sien.
Terug is Suid-Afrika is dit steeds Ernie se passie om musiek te skryf, te komponeer, te verwerk, te vervaardig en te bemeester. En dis waar West ontstaan het. “Net so voor die inperkingsmaatreëls afgekondig is, het ek besluit om meer videos vry te stel van my musiek. Ek is bevoorreg genoeg om my eie ateljee te hê en musiek te vervaardig vir ander kunstenaars,” sê Ernie. “Behalwe om my eie musiekvideos te maak, was ek in hierdie tyd ook besig met Mac Young se album. Hy is volgens my natuurlik een van die beste Country sangers in Suid-Afrika!”
Mac Young se debuutalbum ‘Pretty Soon’ is in Augustus 2014 vrygestel, en die musiekbedryf het dadelik kennis geneem van sy talent. Hoe dan anders? Hy het reeds op die ouderdom van drie jaar begin sing .
“Ek is gebore om op die verhoog te wees,” sê Mac. “Ek wil mense inspireer met musiek. My passie is Country-musiek en alhoewel ek altyd die ligte kant van die lewe probeer sien, verkies ek musiek met ‘n dieper betekenis wat mense se harte aanraak.” Ernie het Mac genader om saam met hom te sing op die musiekvideo van die Waylon Jennings-treffer ‘A couple more years’. Ernie het egter gevoel daar kort ‘n derde stem, en vir Hugo Hewitt genader om die driemanskap te voltooi.
Soos dit die geval is met meeste musikante, kom Hugo uit ‘n baie musikale familie. “My pa en sy broer het reeds op skool saam begin musiek maak, en ek het onder die klanktafel by optredes grootgeword,” sê Hugo. “As familie, het ons gereeld saamgesing by familiebyeenkomste. Ek was vier jaar oud toe my Ouma my geleer het hoe om te harmoniseer, en in Graad sewe het ek myself begin leer kitaar speel”.
Op skool was Hugo deel van al wat koor en musiekgroep is, en het na skool as klankingenieur studeer. Hugo het daarna as klankingenieur by Lefra Produksies gewerk waar sy liefde vir die teaterwese ontstaan het.
Ernie beskryf Hugo as ‘n “harmoniseringsmeester”. Hugo het ingestem om die derde stem te wees op die musiekvideo, en wat aanvanklik net ‘n eenmalige samewerking sou wees, was die begin van ‘n nuwe hoofstuk in die drie manne se lewens. “Ek onthou die dag in die ateljee toe Hugo se stem bygekom het. Dit was ‘n hoendervleisoomblik en dit gebeur nie baie met my nie,” vertel Ernie. Die video het groot aanklank by die publiek gevind en die manne het besluit om die groep ‘n kans te gee. “Ons al drie is kunstenaars in eie reg,” sê Hugo. “Ons liefde vir Country het ons egter saamgebring. Ernie is ‘n aanhanger van meer klassieke Country, waar Mac weer ‘n meester van moderne Country is. Ek self verkies die Country van die 80’s en 90’s. Dit was van daardie eerste oomblik af duidelik dat ons ‘n Country-groep sou wees.”
Die naam West bring hulde aan die Amerikaanse Country en Western-beweging. Volgens Ernie maak niemand Country-musiek soos die Amerikaners nie. “Met hierdie country herlewing wat die afgelope drie jaar in Suid-Afrika plaasgevind het, het West spontaan ontstaan deur die groot aanvraag van die publiek”, sê Mac.
West is by Die Boer in Durbanville op Sondag 3 Desember 2023 om 14h00 en 4 en 5 Desember om 20h30.
Kaartjies is R180 en beskikbaar by 021 979 1911 of aanlyn by www.dieboer.com

