Tien jaar ná Lig op die Horison, een van die multi-bekroonde sanger en liedjieskrywer, Joshua na die Reën se eerste groot treffers, is hy steeds besig om harte te verower met sy betekenisvolle musiek, unieke styl, diep lirieke en besonderse klank.

Hy het onlangs sy vierde album, Die Vallei bekendgestel. Dit voer luisteraars weg en neem hulle saam op ’n emosionele avontuur van selfondersoek en vernuwing.

In tipiese Joshua na die Reën-styl, is daar ’n baie spesiale formaat en boodskap agter sy nuutste projek, wat hy as volg beskryf:

“Kom voel hierdie oomblik saam met my… ons staan en kyk uit oor die Vallei, dis die begin van ons staproete. Dit het baie gevat om hier te kom, niemand weet beter as jyself nie. Die afgelope tyd was daar iets binne jou wat jou saggies maar dringend geroep het om uiteindelik hier te staan, weg van die samelewing, weg van dit wat jou kop besig hou elke dag.

Jy weet hoe min jy jouself toelaat om dit te ervaar, en nou is jy hier. Ek kyk in jou rigting, dis tyd om te begin. Ons stap saam af teen die hang van die berg. Ek ervaar hoe jou gemoed ligter raak, daar is niks soos die skoon lug en onbelemmerde gevoel in die atmosfeer van hierdie oomblik nie, die wind deur jou hare, die voëltjies en insekte, die stroom onder in die Vallei.

Daar is soveel hier om te vind. Raak mens net eendag wakker en weet, dit wat jy jou al jare lank aan meet is jy ewe skielik bereid om op te gee, en te vloei in riviere? Die vryheid van hierdie gedagte groei soos vlerke uit jou rug en op een of ander manier voel dit of jy saam met die arende deur die lugstrome in die Vallei sweef.

Jy wil vir altyd net hier wees, jy wil leef, jy wil jaarringe in oorvloed agter los. Jy wil in die oggend met die son wakker word, kruisbeen onder die seders op die oewer sit en net asem haal en die lewe inneem. Vir te lank was die normaal om nie te voel nie, om nie deel te voel van dit wat die Groot Gees van die Hemel en aarde vir ons gegee het nie. Jy raak stil, want jy weet nou dat dit maar nog altyd hier is vir jou, ’n gedagte weg.”

Joshua na die Reën, foto: EON Media
Joshua na die Reën, foto: EON Media

Sy nuwe liedjies en vrystellings begin reeds aanklank vind by ’n wye gehoor omdat dit ’n uiteenlopende kombinasie van lekkerluister popklanke, rustiger meditatiewe snitte en selfs elemente van R&B en alternatiewe musiek bevat. Dit sluit ook samewerkings met verskeie ander kunstenaars, waaronder Karlien van Jaarsveld en die Tuks Camarata-koor, in.

Die Vallei bestaan uit 18 oorspronklike snitte uit sy eie pen, wat sorgvuldig deur Gideon Botes verwerk is tot ’n volmaakte eindproduk.

Hierdie album se aanslag is heelwat meer volwasse omdat hy baie meer lewenservaring het as tien jaar gelede, dis ietwat meer kommersieel en gaan verseker ’n groter gehoor bereik.

“Ek het besef hoe meer jou musiek oor die radio speel, hoe meer luisteraars bereik jy. Dis tog hoekom jy kuns pleeg, sodat dit mense se lewens kan verander,” verduidelik hy. “Op sy mooi manier het Gideon gevat wat ek gebring het en dit omskep in iets waarop ek baie trots is. Ek sal graag in die toekoms weer saam met hom wil werk.”

Omdat elke liewe liedjie uit ’n baie persoonlike plek kom, is dit vir hom onmoontlik om ’n gunsteling te kies. Hy verklap wel dat ‘Stroom’ en ‘Rivier’ en ‘Die Groot Gees van Hemel en Aarde’ hom na aan die hart lê omdat dit in sy eie tuis-ateljee opgeneem is en klanke van sy kinders en voëltjies in die tuin vaagweg in die agtergrond gehoor kan word.

Hy wou met die album en laasgenoemde lied die boodskap oordra dat sy inspirasie vir alles wat hy aanpak in die lewe van God af kom.

“Ek leef met die oorheersende gevoel dat al is God en sy skepping hoé groot, hy het my en jou ook gemaak.”

‘By my’, die eerste enkelsnitvrystelling en musiekvideo vanaf sy nuwe album, is geïnspireer deur ’n e-pos-versoek wat hy van ’n luisteraar af ontvang het om ’n liedjie te skryf vir die persoon se huweliksherdenking, nadat iets gebeur het om die vertroue binne daardie huwelik permanent te skend.

“Die lirieke van die liedjie sê: ‘Bly. Bly as die wêreld gaan, en jy sal my kry as jy my nog kan sien vir my.’ Ons is so geneig om verby die essens te kyk van wie iemand regtig is. Almal het goed waarmee hulle sukkel, maar ons bly wie ons is ten spyte daarvan. Dis daarom belangrik dat ons mense sien vir wie hulle is en nie vir wat hulle doen nie,” verklap de Villiers oor die betekenis agter dié besonderse lied. “Dit was n voorreg om dit saam met Hannah Foster, Raziela Grey en Renee Kruger te kon opneem, met Gideon Botes as vervaardiger. Musiekvideo deur BrandMill”, sê hy.

By My

“Ek hoop dat mense gaan voel hulle sal kan asem haal wanneer hulle na die album luister sodat hulle kan kom na die vallei en weg van hulle besige lewe op die bergkruine. Mense het gedurende Covid-19 baie mure rondom hulle gebou en kan nie meer onthou waaroor die lewe regtig gaan nie en ek wil hulle herinner wat belangrik is,” sluit hy af.

LYS VAN SNITTE OP DIE ALBUM

Dreuning op die berge

DMT

Die Groot Gees van Hemel en aarde

Die verte in

Stroom en Rivier

Meditasie

Broers

’n Laaste keer

Neuteboord

Iemand soos jy

Glystroom

Die Vallei

Beter vir ons albei

Daar is lig

Hoe ver, hoe wyd

By my

Die Vallei

Lewer kommentaar

Leave a Reply