Die Nagloper, een van die produksies op vanjaar se Aardklop Kunstefees, beloof om baie opwindend te wees. Dis ‘n donker komedie, gebaseer op die verhaal van David de Lange wat in die dertigerjare van die vorige eeu Afrikaanse Boeremusiek na ‘n nuwe vlak geneem het. David, saam met sy makker George Abrahams, ‘n bruin man wat homself as Jood voorgedoen het, het bykans ‘n miljoen Afrikaanse plate verkoop, en tog is daar nie veel inligting oor hom beskikbaar nie.

Die joernalis en skrywer Rian Malan het ‘n paar jaar gelede met die Amerikaner Rob Arlingham gesels wat waardevolle kennis oor Boeremusiek uit die dertiger en veertigerjare versamel het. Rob was ‘n argivaris wat vir die platemaatskappy Gallo gewerk het. “Ken jy David de Lange se musiek?,” het Rob een aand oor ‘n glasie rooiwyn aan Rian gevra.

“Die musiek van David de Lange wat hy toe aan my gespeel het, het my kop skoon van my skouers af geblaas. Ek was nooit bewus van die bestaan van sulke Afrikaanse musiek uit daardie tydperk nie. David was sy tyd dertig, veertig, selfs vyftig jaar vooruit. Die boeremusiek van daardie tyd was alles musiek wat dinge mooi toegedraai het, maar hier kom hierdie ou en sy musiek gaan oor die werklikhede, selfs bitter werklikhede van die werkersklas in die stede,” gesels Rian oor dit wat hom geïnspireer het hom sy eerste verhoogteks te skryf.

Ian Roberts skitter in sy rol as David de Lange. Ian is self ‘n musikant en daarom is dit vir hom maklik om David de Lange van die binnekant af te ken. Elton Landrew speel George Abrahams. Die ander twee karakters, Jan de Wet, (Brian Webber), en Daisy, (Nicola Hanekom) is fiktiewe karakters wat Rian geskep het om ons meer van David en sy roekelose, wilde lewe te vertel.

In Die Nagloper waag Rian dit om te skryf oor iets waaroor gewoonlik nie veel gepraat word nie. “In die teks word verwys na die gaping wat daar in die wit Afrikaner gemeenskap bestaan het tussen die “ordentlike mense”, die hoog opgeleide en geestelik gevorderde mense en die gewone ou wat net wou gekskeer, hard werk en dop steek,” verduidelik Rian.

David de Lange het veral musiek gemaak vir diegene wat net vermaak wou word met lekker musiek. Hy was byna ‘n tipiese Idols-figuur wat in die jare dertig geleef het. André Scholtz behartig die regie en volgens André is Die Nagloper ‘n produksie wat aan hom ‘n heerlike uitdaging gebied het omdat dit iets is wat hy nog nie voorheen gedoen het nie. “Ek weet nie hoe om Die Nagloper te label nie. Dit is nie ‘n drama nie, ook nie ‘n musical of ‘n komedie nie. Die iets heerlik nuuts en opwindends. Die agtergrondmusiek is ‘n opname van die Radio Kalahari Orkes, maar Ian Roberts en Elton Landrew sing wel lewendig in die produksie. Dis ‘n fassinerende verhaal van iemand wat deur die establishment onderdruk is. Die SAUK wou hom nie speel nie. Uiteindelik hoop ek hy kry met Rian se teks so ‘n bietjie van die eer wat hom te beurt val.”

Die Nagloper is beslis ‘n verhaal wat niemand onaangeraak gaan laat nie. Soms gaan jy lag, soms sal jy dalk ‘n traan afvee, maar voor jou oë gaan die man, wat vroue onweerstaanbaar gevind het, lewendig word. Sy lekker dansmusiek gaan weer gehoor word en niemand wat hierna na die Duitsweswals luister en hoor van David de Lange en sy orkes sal nie weet wie die man werklik was nie. Die titel, Die Nagloper, verwys na David de Lange se tweede orkes wat as Die Naglopers bekend gestaan het. Die produksie is vroeër vanjaar tydens die Innibos fees met ‘n Ramkat toekenning, ‘n toekenning van die De Kat tydskrif, vereer.

Lewer kommentaar

Leave a Reply