Cydonia oblonga
Soos met pere het Jan van Riebeeck ook kwepers na Suid-Afrika gebring. Dit was net so belowend soos die pere, want kwepers groei omtrent op enige plek – net nie subtropiese areas nie.
Goed gedreineerde grond is die beste, hoewel die kweperboom in enige grond sal groei – selfs brakgrond.
Dit kan in ‘n vlak gat van so 40 cm geplant word. Meng superfosfaat met die grond onder in die gat voor jy die boom daarin sit. Plant die bome so 3 meter uitmekaar.
Die bome hou van baie water. Plant dit naby enige waterbronne vir ‘n baie goeie opbrengs.
In die boom se eerste en tweede somer moet dit 150 g KAN kry. In die tweede lente moet dit ook 500 g 2:3:2 kry, 1 kg 2:3:2 die jaar daarna, 1,5 kg 2:3:2 die vierde jaar en 2 kg die vyfde jaar. Die derde jaar moet daar ook begin word met 1 kg 3:1:5 en in dieselfde mate as die 2:3:2 vermeerder elke jaar. 250 g Engelse sout moet ook elke lente toegedien word.
Snoei die boom wanneer dit vrugte dra en sorg dat dit nie te veel vrugte het wat meeding vir voeding nie.
Die vrugte is gereed vir oes wanneer dit vergeel het.
Kwepers kan op baie maniere gebruik word.