Mans en aanraking

Ben,
Ek hoop regtig jy kan my help. Dit is nie net ek wat ´n probleem het nie, dit is ook my “skoonsuster”. Ek is nog nie getroud nie, maar sy is wel. Die probleem is dus die twee broers. Hulle het geen seksuele drange nie. Ek en sy wat weer ´n warm persoon is het hulle aanraking ens. nodig. Ek en my vriend is nog nie so erg soos hulle nie, hulle kommunikeer glad nie meer nie en daar is ook geen fisiese kontak tussen hulle nie. Wat my en my vriend aanbetref: hy “cuddle” my baie maar ook geen fisiese kontak is tussen ons nie. Ons het wel gevry in die begin, maar dit was asof hy my wil wys hy kan. Ek dink ook wat ek moet verder sê is dat toe my vriend 7-jaar oud was en sy sussie gebore is, sy ma oorlede is met die geboorte. Nou vra ek dus…. kan dit wees oordat hulle moeder oorlede was en geen moederlike liefde in die huis was nie (sy pa was ook baie kwaai met hulle) dat hulle geen liefde kan betoon nie. Want nie hy of sy broer kan liefde ontvang of gee nie. Ek dink nie hulle weet hoe nie. Maar dit is moeilik. Omrede ek en “skoonsus” is twee warm mense en hulle nie. Dit is ook asof hulle ´n front voorhou, veral voor ons vriende. Hulle is ook gesiene mense in ons dorp, en word hoog aangeskryf. Maar is dit die moeite werd om met ´n front te loop en te maak asof jy gelukkig is? Volgens ons vriende ens. is ons en “skoonsus” die perfekte paartjies, maar min weet hulle. O ja, hulle albei het ´n geweldige humeur. Nou nie so dat hy my sal aanrand nie, maar hulle raak buite hulself. Ek is tog lief vir hom en aanvaar hom so, maar dink jy daar is iets wat ´n mens kan doen om hulle te wys hoe gee mens liefde en hoe ontvang mens dit. My vriend is 38 en sy broer 44. My vriend was nog nooit getroud nie.
Laat weet my asb.
Dankie
– Anoniem
Ben:
Liewe jong dame.
Ek moet begin om deur te bieg dat ek ´n mate van bewondering het vir hierdie tipe seksuele “onthouding” aan jou en jou “skoonsuster” se kant, al is dit gedwonge. Dit spreek van julle liefde vir die twee mans …. of is dit dalk net julle opvoeding wat sorg dat julle getrou is?
Sosialisering speel ´n groot rol in ons gedrag. Dit is moontlik dat hierdie kêrels die “aanvaarbare” norm dat mans nie openlik hul liefde openbaar en ontvang nie dalk net nog ´n trappie verder neem tot die ekstreem. Hul gedeelde omstandighede kon ´n rol speel hierin. Die geweldige humeur kan onder sulke omstandighede moontlik die gevolg van opgekropte emosies wees.
Ook moet ek jou gelyk gee oor jou afleiding oor die afwesigheid van ´n moederfiguur. Die vader se optrede kon onder sulke omstandighede natuurlik bepalend wees vir die twee jong mans se persoonlikheid.
Bogenoemde is natuurlik net spekulasie en ek wil jou aanpor om te probeer om hulle te kry om ´n sielkundige te gaan sien. Soos altyd wil ek aanbeveel jy of jou “skoonsuster” gaan eerste en probeer hulle op die manier betrek.
Skryf gerus weer vir my as jy nie regkom nie, dan probeer ons ´n meer direkte aanslag op jou vriend en sy broer.

Lewer kommentaar

Leave a Reply