Gewere, rose, vars grond en vere. Dis om net ’n handvol rekwisiete te lys op die stel van Christiaan Olwagen se produksie van Hedda Gabler wat binnekort by die Baxter-teater in Kaapstad op die planke gebring word.
Dié bekroonde herwerking verplaas Henrik Ibsen se femme fatale na die 21ste eeu met ’n kenmerkend vurige titelkarakter, vertolk deur Rolanda Marais. Hedda Gabler is van 1 tot 10 Mei in Afrikaans te sien, en van 12 tot 24 Mei sit dieselfde ensemble ’n Engelse buiging voor.
Aan die hand van ’n uitverkoopte debuut by die 2024 Toyota Stellenbosch Woordfees, was dit die groot wenner by vanjaar se kykNET Fiëstas met vier pryse. Dit sluit in beste aktrise vir Marais se skitterspel, beste prestasie in ontwerp, beste ensemble en beste feesproduksie. Die stuk is laasjaar by die Woordtrofees met die eerste Martie Retief Meiring-toekenning bekroon vir nuwe werk wat gehore uitdaag, opgewonde maak en aan die praat sit.
Hedda is pas terug van haar wittebrood met haar man, Jurg (Albert Pretorius), maar die bootjie kantel gou. Ten spyte van Jurg se sukses, is sy alreeds verveeld met hom, terwyl hy steeds nie kan glo die mooie Hedda het hóm gekies nie. So wanneer haar ou vlam, Lovborg (Ludwig Binge) skielik opdaag, gooi sy haar hele lewe aan flarde. Hoekom? Want sy kan.
Kaartjies beskikbaar by Webtickets aanlyn of by Pick n Pay winkels te koop. Daar is n ouderdomsbeperking van 16 jaar.
Met Rolanda Marais, Albert Pretorius, Martelize Kolver, Ashley de Lange, Ludwig Binge, Stian Bam
Regie en vertaling: Christiaan Olwagen

