Die Ander Helfte is ‘n nuutgeskrewe teks deur Mari Borstlap (wat ook die regie van die stuk behartig). Die drama kyk na die beginsel dat alles wat eens een was en dan twee word, altyd weer een sal wil wees. Dis die verhaal van ‘n tweeling wat geskei word met geboorte en hul magiese pad na hereninging waardeur hulle dié beginsel verken. ‘n Roerend eerlike verhaal met belowende talent. Daar sal ook twee ander kort tienertonnelstukke as gaste optree. Wees verseker van goeie teater teen ‘n ongelooflik billike prys!
Kokanje Produksies wat deur Mari Borstlap en Ignatius Nothnagel gestig is hierdie jaar, dien as ‘n tuig waardeur hulle hul liefde en passie vir drama kan uitleef. Die doel is om hoë gehalte drama produksies op die planke te bring. Stukke wat die sintuie geheel en al oorweldig en die gehoor laat snak na hulle asem. Daar vandaan die naam: Kokanje, die luilekkerland. ‘n Plek waar logika jou verraai en verbeelding jou betower.
Daar is besluit om die eerste Kokanje produksie ‘n tienertoneelstuk te maak. Beide die stigters was baie aktief met toneel gedurende hulle skoolloopbane. Dit is dus nie verbasend dat tienertoneel vir hulle so belangrik is nie. Een van die doelwitte is dus om vir hoërskool leerders, wat ‘n groot belangstelling in drama toon, ‘n kans te gee om hulle talente ten volle te benut. Gedurende die produksie word die leerders aan nuwe tegnieke en konstruktiewe kritiek blootgestel. Dit volg met Kokanje se filosofie van “Konstante Verbetering”. Kokanje het egter ook ‘n baie unike filosofie by die skep van ‘n produksie: Drama moet geniet word. Kokanje skep produksies wat deur beide die gehoor én die lede van die toneel geniet kan word. Kokanje beoog om puik stukke vir ‘n breër gehoor aan te bied, met die passie waarmee hulle dit aanpak as dryfkrag.
