Die beste dinge by die KKNK is verniet

Negatiewe ekonomiese vooruitsigte sal feesgangers by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees hul sente laat omdraai vir die volgende jaar of twee. Dit is natuurlik nie rede om weg te bly van die KKNK nie. Kaartjiepryse het die afgelope vier jaar nie noemenswaardig gestyg nie. In 2005 kon jy Marthinus Basson se Romea en Julia sien vir R 55 tot R 78. Vanjaar kos Sakrament jou R 70.

Aan die koste van vervoer kan jy nie veel doen nie, maar wanneer dit kom by verblyf is daar goedkoper opsies. Indien jou begroting skraps is kan jy jou hotelkamer of plek in ‘n gastehuis verruil vir een van die talle koshuiskamers op die dorp. Soek jy nog ‘n goedkoper opsie kan jy altyd ‘n tent oorweeg. Kampeerterreine sluit in die Laerskool Noord-kampeerterrein, Bridgton-toeristekamp, Suid-Kaap Kollege-kampeerterrein, Kairos-kampeerterrein, Langenhoven Gim-kampeerterrein en die SANW-kampeerterrein. Die goedkoopste kampplek was in die middel van die dorp by die Tentedorp, maar ek is nie seker of die kampplek weer beskikbaar gaan wees nie. By die amper gratis verblyf in die Tentedorp was jy egter uitgelewer aan jou mede kampeerders se deurnagjolyt.

Die goeie nuus is egter dat van die beste dinge by die KKNK nog verniet is. Daar is ‘n visuele kunsaanbod wat sterk gegroei het. Die hart van die kunste op Oudsthoorn is die Prins Vincent-gebou en ‘n plek waar jy ‘n paar dae kan deurbring sonder dat dit jou ‘n sent uit die sak jaag. Ander venues wat deel is van 2009 se kunsroete is ArtKaroo, B-Crafty Ateljee, Badkop, Bottega Kunsgalery, Die Kruising, Museallery Gallery en Tienie se kamer by Boesmanskop.

Op straat kan jy uitkyk vir Thesele en Nothing ever changes.

ABSA KKNK

ABSA KKNK

Twee boekbekendstellings by vanjaar se fees om van kennis te neem is die van Jackie en Reinet Nagtegaal se nuwe boek In Limbo en Stef Bos se Stillewe. Die bekendstellings vind plaas by die Neelsie teater en daar is nie ‘n toegangsfooi nie.

Soos altyd bied RSG elke dag bekroonde hoorbeelde en radiodramas aan in die NA Smit-kamer in die CP Nel-museum. Toegang is gratis.

Wat die (baie) ligte vermaak betref is daar ook aanbiedinge waarvan sommige gratis is en ander jou ‘n minimale bedrag kos. Toegang tot Castle se feeskasteel in St. Johnstraat, Hunter’s Den, die Buffelsdrift Restaurant en die RSG-Verhoog by die CP Nel Museum is gratis. By die African Space betaal jy R10 , R20 by Klip-innie-Bos en R8 by Die Burger Tongelos-tent. Vermaak in die tente wissel van bekende gesigte tot karaoki-sangers.

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

  1. kan julle asb die uitleg van watse tente is waar volgende jaar op die internet sit

Lewer kommentaar

Leave a Reply