Die Goue Pantoffels: Die Heks, die Trol en die Towerspel

Die Goue Pantoffels : Die Heks, die Trol en die Towerspel is geskryf deur Ané Mostert en Cornel van Zyl. Hulle behartig ook die regie en keer weer terug met ‘n missie as Agente Smit en Smitt. Gustav Gerdener, beter bekend as Anton van 7de Laan, en Ilana-Mada la Cock voltooi die res van die rolverdeling.

Dié nuwe toneelstuk maak sy opwagting ná die wegholsukses van Die Goue Pantoffels. Teatergangers van 2006 sal ‘n paar van die karakters onthou, en verras word deur ‘n paar nuwe kleurvoller karakters. Omdat Die Goue Pantoffels : die Heks, die Trol en die Towerspel nie ‘n opvolg is nie, is almal welkom om díe nuwe avontuur saam met ons te kom geniet.

Die nare Hester Heks; ook bekend as èHêster Mxdoxdobôlo, heks en deeltydse sangoma, het die koning ontvoer! Die losprys op sy lewe is die Goue Pantoffels. Maar hoekom het sy dit gedoen? Net Bang-vir-Niks inc. se Agente Smit en Smitt weet hoe en waar om die Goue Pantoffels te kry. Maar so maklik gaan dit nie wees nie. èHêster en haar handlanger Dolfineus ‘die trol’ Trollope het ‘n baie gevaarlike vyf-vlak towerspel saamgestel om die agente te kniehalter in hulle missie. As die agente nie foutloos deur al vyf vlakke van die towerspel beweeg nie, is die Koning se dae getel …

Die Goue Pantoffels: die Heks, die Trol en die Towerspel is groter en beter as die eerste een. Die interaksie met die gehoor, en veral die kinders wat kan deelneem aan al die kleurvolle speletjies, maak hierdie stuk beslis groot pret vir die hele gesin.

Kom kyk self of die Goue Pantoffels jóú voet gaan pas.

(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)

Die Goue Pantoffels: Die Heks, die Trol en die Towerspel

Lewer kommentaar

Leave a Reply