Verhoudings bly ‘n wenresep!

‘n Besondere produksie wat vanjaar by Aardklop op die planke gebring word is Wolke Translated. Hierdie toneelstuk is ‘n verwerking deur Harry Kalmer van sy boek En die lekkerste deel van doodwees wat vroeër vanjaar die tweede plek behaal het in die Insig-romanwedstryd. Die boek se amptelike bekendstelling vind ook hierdie jaar by Aardklop plaas. Alhoewel hierdie roman nie ‘n opvolg op Briewe aan ‘n rooi dak is nie, staan die twee verhale beslis in ‘n bepaalde verhouding tot mekaar.

Wolke Translated vertel die verhaal van ‘n pa wat sy Amerikaanse vrou en dogter verlaat en terugkeer na Suid-Afrika wanneer die dogtertjie sewe jaar oud is. En van toe af skryf hy briewe aan haar. Hy is ‘n oud jazz musikant wat self aan dagga verslaaf is.

Camilla, sy dogter in Amerika wat intussen grootgeword het, is ‘n popmusikant in ‘n suksesvolle band. Sy sit in ‘n rehabilitasiesentrum vir haar verslawing aan Crack, en sy moet vrede maak met baie dinge: haar swak verhouding met haar ma, haar pa wat aan die ander kant van die oseaan sit, haar eie verslawing.

Wolke Translated fokus baie sterk op verhoudings en versoening en vergifnis. Op ‘n pa en dogter wat mekaar van vooraf moet liefkry, en dit oor baie grense heen.

Omdat hierdie stuk so sterk taalgedrewe is, is die stel juis minimalisties van aard. Marcelle van Heerden speel die rol van Kobus, die pa. Camilla, die dogter, se rol word vertolk deur Jessica Haines die jong, baie talentvolle aktrise wat pas die rolprent Disgrace saam met John Malkovich voltooi het.

Die musiek wat ‘n belangrike rol speel in die toneelstuk is alles oorspronklike musiek wat geskep is deur Bax Zandburg. Wolke Translated gaan daardie magiese element van teater vasvat op ‘n vernuwende manier. Henriëtta Gryffenberg behartig die regie.

Het jy al ooit ‘n besoek aan Boeta Joe se haarsalon gebring waar jy dinge gaan sien en beleef wat jou gaan laat skater van die lag? Wees verseker, die skreeusnaakse stuk Joe Barber 4 gaan dit inderdaad weer regkry om gehore te laat skreeu van die lag. Joe Barber en Boeta Gamat kry dit immers al vir die afgelope 7 jaar lank reg. In 1999 het Joe Barber se streke begin in ‘n, waar anders, barbier. Nie lank daarna nie het Boeta Gamat hom by Joe aangesluit in Joe Barber and Boeta Gamat Too. Vanjaar se Joe Barber 4 vertel ook weer hoe Washielah, Joe se vrou, so vreeslik skinder, en hoe Outjie, die motorwag, net nie kan leer om sy mond te hou nie.

Die stuk is ‘n skreeusnaakse reis terug na die tagtiger jare en fokus op die dinge wat van die tagtigs so ‘n wonderlike dekade gemaak het. Maar soos gewoonlik gee Boeta Joe en Boeta Gamat ‘n oorsig oor al die kliënte wat die haarkappery gereeld besoek. Vanjaar moet Boeta Joe woedebestuurtegnieke inspan om hom te help met sy kort humeur. Natuurlik dra Washiema se geskinder en Outjie se deurlopende kommentaar by tot ‘n besliste een-lag-per-minuutresep. Joe Barber 4 was vroeër vanjaar geheel en al uitverkoop in die Kaap.

Die rolle van Boeta Joe en Outjie word vertolk deur Oscar Peterson en David Isaacs vertolk die rolle van Boeta Gamat en Washielah. Die bekroonde Heinrich Reisenhofer, van SUIP-faam, behartig die regie. Die stuk word aangebied deur Djamaqua Productions.

bydrae: Alita Vorster

Lewer kommentaar

Leave a Reply