Koos du Plessis is nie verniet reeds toe hy nog geleef het deur literêre mense, die media en die kultuurwêreld as ‘n digter in eie reg vereer nie. Geen wonder ook dat geen ander liedjieskrywer se werk naastenby so dikwels die onderwerp was van huldigingsprogramme, herwaardering en herverwerking nie.
‘n Gehoorlid in 1993 in België merk op nadat hy die program Skadu’s teen die muur bygewoon het: “dat man had echt wat te zeggen!” – Koos het iets te sê gehad. Hy het ‘n rykdom van poësie nagelaat waarvoor hyself nooit musiek geskryf het nie, en al dié tekste is in 2004 in ‘n publikasie treffend getitel Erfdeel deur sy gesin uitgegee – om saam te val met die twintigste herdenking van sy afsterwe.
Vir Dagboek vam ‘n swerwer het die kunstenaars hulle eie toonsettings van tekste gedoen, en toonsettings van Coenie de Villiers, Lucas Maree, Laurinda Hofmeyr, Karla du Plessis, Lize Beekman, Andries Bezuidenhout (Brixton Moord en Rooforkes) sorg vir ‘n verrassende wyd uiteenlopende verskeidenheid van emosies, klanke en ritmes.
Van die swerwer-sanger – Koos Doep – se eie musiek is ook ingesluit in die program, maar die klem val op die onbekende. Die bekroonde regisseur, Jaci de Villiers, verwys na haar aanbieding as ‘n “woordoperette”, en Koos se tekste word van naderby bekyk – soms voorgedra maar meesal gesing. Daar is sy siening van die donker, van God en van verhoudinge – veral dié tussen man en vrou: die man wat altyd maar weer deur wanderlust oorval word, en die vrou wat huis en haard bymekaar probeer hou. Saam met die musiek en liriek speel minimale rekwisiete, dékor, beweging en beligting saam om van die uurlange produksie ‘n sonderlinge kunservaring te maak.
Aanvanklik is beplan om ‘n enkele lied in die program met gebaretaal op die verhoog aan te bied ten einde dit ‘n bietjie meer toeganklik vir gehoorgestremdes te maak, maar uiteindelik het aanwending van dié unieke kommunikasiemedium so dinamies geword dat dit ‘n totale nuwe dimensie aan die program verleen.
(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)
