Saad

Stellenbosch se twee bekendste regisseurs, Marthinus Basson en Juanita Swanepoel, is eersdaags, na jare se afwesigheid, terug op die verhoog in Saad.

Dié stuk is geskryf deur Saartjie Botha, met regie deur Jaco Bouwer wat pas aangewys is as die Standerd Bank se Jong Kunstenaar vir 2008.

Botha en Bouwer was ook aan die stuur van die bekroonde produksie Altyd Jonker onder die vaandel van die maatskappy Vleis, Rys & Aartappels wat die afgelope vyf jaar sinoniem geword het met omvangryke en kwaliteit produksies.

Saad se formidabele rolverdeling sluit verder in Nicole Holm, Stian Bam, Altan Ungerer, Yoliswa Nkolose en Thembeka Sivanjana. Braam du Toit het spesiaal die klankbaan vir die stuk gekomponeer en die spel van musikante soos Zorada Temmingh, Floors Oosthuizen en Ilse Minnie kan gehoor word.

Saad handel oor ‘n boer wat sterf en sy familie wat noodgedwonge drastiese besluite oor die toekoms van die plaas moet neem. Ontwrig deur sy skielike dood, word hulle gekonfronteer met temas soos identiteit, herkoms en die verlies aan die verbondenheid met grond aan. Die stuk bied ook perspektief op die politiek van kinders en ouers binne die opset van ‘n familie. Saad is nie polities gelaai nie, maar staan binne die konteks van die kompleksiteit van grondeienaarskap in Suid-Afrika.

(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Leave a Reply