Die Huis van Bernarda Alba

Die US Drama Departement bied Uys Krige se Afrikaanse vertaling van Federico Lorca se klassieke stuk, Die Huis van Bernarda Alba aan. Magisterstudent Suzaan Keyter is die regisseur.

Die stuk is gesetel in plattelandse Spanje waar ‘n nuut geweduwede matriarg, Bernarda Alba, met haar vyf dogters woon. Die moeder onderdruk haar dogters en onder die dekmantel van die Katolieke kerk en om die naam van die familie te beskerm dwing sy ‘n agt jaar rou periode af. Die spanning bou vinnig op in die huis en die verhaal is deurspek met onderdrukte seksualiteit. As die dogters eindelik in opstand kom teen die moeder het dit tragiese gevolge.

Lorca het in sy betreklike kort loopbaan ‘n groot verskeidenheid boeke, gedigte en dramas geproduseer sowel as sketse, skilderye en selfs musikale komposisies, voor hy op 38 jarige ouderdom deur die Fascistiese Generaal Franco se boewe vermoor is vir sy politieke teenstand teen hom. Sy werke het mense soos die digter Neruda en die skilder Salvador Dali beinvloed.

Die Huis van Bernarda Alba is te siene van 17 tot 20 Augustus 2005 om 20h15 saans in die HB Thom Teater. Kaartjies kos R20 vir studente en R30 vir volwassenes. Vir navrae of besprekings skakel (021) 808 3216.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar