Dinner for One (ook bekend as The 90th Birthday), wat op TV nou al ‘n Oujaarstradisie is, het in Duitsland kultusfliek-status gekry nadat dit in 1963 in Hamburg verfilm is. Dié uiters snaakse roomtert-komedie speel af in ‘n eeue-oue Britse herehuis, waar die laaste oorblywende lid van die familie, Miss Sophie, haar 90ste verjaardag vier. Die hele skets vind in die eetkamer plaas, met Miss Sophie aan die koppenent van die tafel, en daar is vir haar ‘gaste’ – wat almal al dood is – plekke gedek.
Die butler, James, moet vir die gaste ‘n viergang-maaltyd bedien – en daar is vir elke gang ‘n drankie! Aangesien nie een van die gaste behalwe Miss Sophie in ‘lewende lywe’ daar is nie, dring Miss Sophie daarop aan dat James elke gas se rol moet speel (en dus al sy drankies ‘namens’ hom moet drink). “Same procedure as every year, James.”
Hoe later, hoe kwater, en James raak al hoër in die takke … die spanning loop al hoe hoër elke keer as James nóg ‘n rondte om die tafel oorleef sonder om oor die “kop” van die tiervelmat te val.
As ‘n toegif voer Elma en Justin ná pouse Sopper vir Een ook op. Die verrassing is dat Sopper vir Een die spot dryf met Dinner for One. Elma speel dan die rol van die butler, en Justin dié van Miss Sophie. Sopper vir Een is deur Frans Swart verwerk om dit Suid-Afrikaans te maak. “Die intrige is presies dieselfde – dis nog steeds ‘n verspotte jol!” sê Frans. Maar ek het die tweede weergawe ‘versuidafrikaniseer’, en dit was baie groot pret! Die gehoor gaan mal wees daaroor! Die klassieke weergawe is so bekend, en die gehoor weet presies wat om te verwag, maar daar gaan ‘n hele klomp verrassings in die tweede weergawe wees”.
Elma Potgieter is bekend as onder meer aktrise, aanbieder, skrywer, taalpraktisyn, vertaler, woordkunstenaar, en skrywer van meer as vyftig Afrikaanse kortverhale en vier romans. Sy het aan die Universiteit van Pretoria gegradueer met vakke soos Frans, Duits, Afrikaans/Nederlands, Engels, Kunsgeskiedenis en Sielkunde. Later het sy sang- en dramalesse privaat geneem. Ná drie jaar as joernalis by Die Transvaler en Huisgenoot het sy in 1973 haar verhoogloopbaan by die destydse KRUIK begin. Terwyl sy daar was, het sy in vier eenvrouvertonings opgetree: Darling Blossom, Laetitia kom Terug, Vrou aan Flarde en Moervrug, waarin sy ses karakters (drie vroue en drie mans) vertolk het. Meer onlangs was sy te sien in Lefra Produksies se klug My Oom se Vrou se Plekkie in 2019, nadat sy die vorige jaar inderhaas die rol in die klug Daa’ Gaat die Bruid! binne ‘n week moes oorneem. In 2021 vertolk se die rol van Mariana in Schalk Schoombe se eenvroustuk, Klipgebede. Haar nuutste roman, Skerwe, is vroeër vanjaar vrygestel.
Justin Strydom is ‘n bekende televisie-, rolprent- en verhoogakteur en is tans onder meer te sien in die telenovela Diepe Waters in die rol van die swem-afrigter Gys Swarts. Hy het Ak in Isidingo gespeel, waarvoor hy die SAFTA vir beste ondersteunende akteur 2015 gewen het en is genomineer vir ‘n SAFTA beste akteur 2017 vir Paul King in High Rollers. Justin is ook ‘n stemkunstenaar, dosent, skrywer, regisseur en vervaardiger. Hy het drama aan die destydse Pretoria Technikon studeer en was ook die hoof van die dramadepartement by die AFDA Filmskool. Ander televisierolle sluit in rolle in Egoli, Zero Tolerance, Generations, Jozi Streets, Scandal!, Song vir Katryn, The Res, Villa Rosa, 7de Laan en Binnelanders.
Sluit aan by juffrou Sophie se 90ste verjaardagpartytjie hierdie Moedresdag by die Mannah Executive Lodge in Kempton Park! Dinner for One/Sopper vir Een word spesiaal vir Moedersdag op Sondag, 12 Mei om 12:00 aangebied. Die dag se verrigtinge skop met ‘n heerlike driegangmaaltyd om 12:00 af. Nadat daar heerlik gekuier is, kom die produksie aan die beurt. Kaartjiepryse: 1-9 Persone: R400pp (Sluit middagete en Vertoning in) 10 en meer Persone: R350pp (Sluit middagete en Vertoning in) Besprekings kan aanlyn by www.LTickets.co.za gedoen word. Besoek ook gerus www.dinnerforone.co.za vir meer inigting.
