Een Vers Job

Een Vers Job is sodanig gekonstrueer dat die akteur die rol van Job vertolk, maar dat Job dan ook die rol van God vertolk, en dat God self per geleentheid die rol van Job vertolk.

Een Vers Job is ´n samestelling van tekste uit die bybelboek Job wat die karakter van Job in al sy fasette blootlê. Die stuk is sodanig gekonstrueer dat die akteur die rol van Job vertolk, maar dat Job dan ook die rol van God vertolk, en dat God self per geleentheid die rol van Job vertolk.

Die stuk bestaan basies uit drie fases. Aanvanklik ervaar ons Job as uitgeworpene op die ashoop van sy lewe – vol selfbejammering, verward en naïef skuldig. Ons beweeg agtereenvolgens saam met hom deur sy emosies van gestroopte opstand teen God; van verwerping; van God- / Moraliteits- / Sondekenner; deur ´n nostalgie van homself as Gods-vertroueling. Deurgaans handhaaf hy ´n gees van Goedgeit-snobisme – onbewustelik en steeds naïef skuldig!

Vervolgens kom hy egter deur God in konfrontasie met God en leer hy God "self ken" wat hom konfronteer met Sy skepping. Met die afloop van die stuk vind ons dan die slotfase van afsluiting en gestroopte berusting, met ´n Job / akteur wat weet dat sy "Losser leef!" en smag daarna om "Hom eendag met sy eie oë te sien"

Die stuk vind universele aanklank in elkeen se lewe, want elke mens vra op die een of ander stadium dieselfde vrae wat Job vra – nie almal vind egter die antwoorde nie!

Een Vers Job is ´n vrolike poging om die antwoorde in eenvoudige formaat te formuleer en aan te bied. Die teks is verwerk en saamgestel deur Deon Bosman, wat ook die musiek daarvoor geskryf het. Juanita Swanepoel het die regie behartig.

Deon Bosman het Drama studeer onder Robin Malan, Ria Olivier, Johann van Heerden, Ben DeHaeck e.a., waartydens hy vir verskeie produksies ook musiek gekomponeer het – o.a. vir "Miss Los Istrata" (Robin Malan) en "Die Kaukasiese Krytsirkel" (Johann van Heerden). Tydens sy kort loopbaan as amateur het hy o.a. die rol vertolk van "Peter" teenoor Bettie Kemp ("Anne Frank") in "Die Dagboek van Anne Frank". Hy het hom daarna in die Regte bekwaam en gepraktiseer, en maak nou na vele jare ´n welkome terugkeer tot die teater."

Lewer kommentaar

Leave a Reply