Gehore al langs die Tuinroete kan hierdie winter hul dosis vitamien DD (dis nou Drag Diva) geniet soos toegedien deur Pichi Keane. Die bekroonde fopdosser keer in styl terug na Makhanda (voorheen Grahamstad) met haar nuutste produksie om die 50ste Nasionale Kunstefees te vier. Die queen maak ook ’n paar draaie in verskeie dorpe langs die pad, met sowel Engelse as Afrikaanse drag-kabarette. Vir Engelse gehore is daar Freshly Squeezed, ’n vertoning wat Pichi beskryf as ’n “fiercely femme phenomenon”. Afrikaanse aanhangers kan kom teug aan Soetsappig, ’n kabaret vol vrugtige woordspeling en ander verbode vrugte. Pichi hou vol dat beide produksies ’n kabaretervaring propvol vermaak en innuendo belowe, en noem die toer tong-in-die-kies Fruit of My Loins. Gehore was in 2023 aangenaam verras toe Pichi Ripe ’n Ready na die Fringe toe geneem het; die debuutkabaret het selfs ’n Standard Bank Silwer Ovation Award verower.

In sowel Freshly Squeezed as Soetsappig word daar die draak gesteek met die patriargie terwyl Keane interseksionele feminisme ondersoek en die hedendaagse queer probeer kontekstualiseer. As ’n genderqueer kunstenaar gebruik Pichi sy/hulle as voornaamwoorde, en word hulle gereeld aanlyn en in lewende lywe gemis-gender – ’n situasie wat hulle ten volle geniet om uit te buit. Maar dis alles te goeder trou; Pichi glo hierdie tipe interaksies werp lig op die absurditeit van sommige mense se obsessie met wat in ander se broeke aangaan. Queer kwessies is die fokus van hul komedie, en gehore sal terselfdertyd uitgedaag word deur Pichi se standup-roetine en uit die veld geslaan word deur haar betowerende sangstem. Sy weef moeiteloos ’n ryk verskeidenheid musiekgenres in ’n tapisserie van sosio-politieke kommentaar, en sy lyk boonop goed terwyl sy dit doen. ’n Keane-kabaret is ’n mallemeule rit van plesier, en vir dié wat nog nie so iets ervaar het nie, is die beste aanbeveling om jou sitplekgordel styf vas te maak en jou pêrels liefs by die huis te los.

Besonderhede vir die Fruit Of My Loins toer as volg:

  • Freshly Squeezed by 34 Waenhout, Knysna om 19:00 op Vrydag, 14 Junie 2024. Besoek Quicket vir besprekings.
  • Soetsappig by MacFee Dinner Theatre in Plettenbergbaai om 20:00 op Saterdag, 15 Junie 2024 in samewerking met After Dark Events. Kaartjies beskikbaar op Tixsa.
  • Freshly Squeezed by die Thomas Pringle Saal in die 1820 Settelaars Monument op verskeie tye, 20 – 24 Junie 2024. Vir meer besonderhede en om besprekings te maak, besoek www.nationalartsfestival.co.za
  • Freshly Squeezed by Nineteen33 Speakeasy Bar in Gqeberha om 19:00 op Vrydag, 5 Julie 2024. Besprekings word aanvaar by www.nineteen33.co.za
  • Soetsappig by ReedValley Estate in Mosselbaai om 20:00 op Saterdag, 6 Julie 2024. Bespreek direk op die ReedValley website.
  • Soetsappig by The Showroom Theatre in Prince Albert om 19:00 op Saterdag, 13 Julie 2024. Besprekings deur Quicket.

Vir meer inligting en om alle besonderhede op een webwerf te bekyk, besoek gerus www.pichikeane.com.

Pichi Keane
Pichi Keane

Lewer kommentaar

Leave a Reply