George Carlin

George Carlin, komediant par excellence, is gister oorlede in die ouderdom van 71 aan hartversaking. Hy word deur baie gereken as een van die beste ooit. Comedy Central plaas net Richard Pryor bo Carlin.

Carlin se vlymskerp, uitdagende humor het van hom ‘n ikoon gemaak. Sy galgehumor het die spot gedryf met alles wat taboe was. Onder sy gunsteling onderwerpe was die moderne samelewing en godsdiens.

Hy het vir niks of niemand teruggedeins nie. In 1972 is hy by die Milwaukee Summerfest gearresteer vir openbare onsedelikheid. Dit was sy Seven Words You Can Never Say on Television-skets wat hom in die warm water laat beland het. Dit het later Carlin se gewildste skets geword.

Carlin het ook in verskeie films verskyn, onder andere Bill & Ted’s Excellent Adventure, Prince of Tides, Dogma en Jay and Silent Bob Strike Back. Hy was ook die stem van Fillmore, die Volkswagen bussie in Cars. Fillmore se registrasienommer was 51237, Carlin se geboortedatum.

In sy leeftyd het George Carlin vier Grammy-toekennings en drie American Comedy-toekennings ontvang. Hy is ook aangewys as 2008 se ontvanger van die Mark Twain Prize for American Humor en sou dit in November in ontvangs neem.

Lewer kommentaar

Leave a Reply