Mees is ‘n eenbedryf wat Mari Borstlap as opdragproduksie vir Somerset-Wes Primêr se deelname aan die Logan Toneelfees in 2008 geskryf het.
Sy is veel meer as dramaturg en regisseur – het sang as matriekvak gehad en aan die einde van 2007 ‘n BA-graad in Taal en Kultuur met Teaterwetenskap as hoofvak aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Van haar gedigte is al gepubliseer in Penseel, ‘n bundel wat jaarliks uitgegee word deur die vereniging vir Afrikaanse studente en haar vorige drama’s is almal met sukses opgevoer en het verskeie toekennings ontvang.
Mees vertel die verhaal van ‘n beroemde skilder wat ook sy eie gallery besit. Hy is ‘n knorrige, bitter ou man wat sedert sy kinderdae ‘n stryd voer om aanvaar te word vir wie hy is. Hy het min tyd vir enige iemand behalwe homself en sy eie belange … of dit is hoe dit voorkom. Mees se lewe én hart word egter verander toe ‘n jong seun genaamd Bart sy gallery op ‘n gereelde basis begin besoek. Bart self word nie aanvaar vir wie hy is nie, aangesien hy kunstig is en sy ouers sukkel om die feit te aanvaar.
Mees is aanvanlik glad nie ingenome met Bart se besoeke nie, maar nadat die karakters in Mees se skilderye sélf tot aksie oorgaan, verander die verhouding tussen Bart en Mees tot een van student en mentor. Bart as jong volwassene dien as verteller, wat die verhaal van Mees vertel by sy nuutste kunsuitstalling se openingsaand.
Die verhaal is ‘n universiële storie wat die wonder van kreatiwiteit, aanvaarding, vriendskap en die mens se vermoë om te leer, groei en te verander, verken.
(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)

