Terwyl almal in die omgewing swemlesse neem vir oorlewing, is daar ’n ander tipe histerie wat by die Baxter heers.
Ja, dis daai tyd van die jaar wanneer die mense in die Kaap ’n koue en donker teater trotseer om te lag oor hoe belaglik hulle is. Dit is die Jive Cape Town Funny Festival 2026.
Die seremoniemeester is niemand minder nie as Alan Committee; wie se naam steeds klink asof hy in beheer was van die Stad Kaapstad se nuwe tariefstelsel.
Op die verhoog: die Italiaanse skadukunstenaar Matteo Fraziano, wat waarskynlik meer emosie met ’n silhoeët kan uitbeeld as die jongste Sokkie treffer; Mike Woodhams, ingevoer uit Brittanje; en plaaslike swaargewigte Jason Goliath en Robby Collins, wat ons gaan herinner dat trauma eintlik snaaks is.
Daar’s ook die Jive Funny Championship, waar aspirant-komediante teen mekaar meeding vir ’n plek op die hoof-verhoog.
Die fees loop van 28 Mei tot 21 Junie in Rondebosch, waar satire en die Baxter se slegte wyn weer hande vat.

