Daar was nie plek in verlede week se opsomming oor die KKNK 2005 nie. Hier volg my twee sinne oor elke produksie wat ek vanjaar bygewoon het.
1975 was op my lys omdat SA se la femme formidable Antoinette Kellermann in die rolverdeling was. Sy het later die week haar pols gebreek, maar die vrou het aanhou speel. Die uitstekende stuk beklemtoon vir my ons eie subjektiwiteit in die belewing en verstaan van die wêreld om ons.
Antoinette Kellermann was ook in Verleiding wat handel oor Eugène Marais. Kellermann was weereens fenomenaal. Dit is net jammer ons moes na die stuk kyk en gebombardeer word met musiek uit twee verskillende rigtings. Die teks was na my mening onnodig uitgerek.
Vrededorp was die Nagtegaal tekspryswenner in 2004 en na my mening welverdiend. Ek was verbaas oor die wye spektrum mense wat byval gevind het by hierdie drama.
Ook met Etenstyd was ek verbaas oor die verskeidenheid mense in die gehoor. Eers het ek gedink Stephanie Hough se pose op die plakkaat het iets daarmee te doen, maar miskien moet ek ophou om mense te onderskat. Die drama is ‘n toonstuk vir fisieke teater.
Ek is te jonk om werklik Pip Freedman se radioprogramme te onthou, maar oud genoeg om hom te onthou in die rol van een van sy eg Kaapse karakters. Ek het Broekies en Plaatjies, die huldeblyk aan Pip Friedman terdeë geniet.
Leipoldt soos nog nooit vantevore se woordkuns was ‘n plesier om by te woon. So was C. Louis Leipoldt gay of nie?
Stout vannie aarde met Loit Stôls en Alastair se polsende kabaret. Hulle het die hele (klein) gehoor in vervoering gehad met die polsende klanke. Na die tyd was ek in die ry vir ‘n cd.
Vir die eerste keer in ‘n lang tyd was ek nie vanjaar by die Kaktus oppi Vlaktes nie. Lede van ons feesgeselskap wat daar was is oortuig hulle sou dit meer elders geniet het.
Net weer die mense wat op die musikale front die kalklig gesteel het: Robbie Wessels, Rooibaardt, Southern Gypsy Queen, Delta Blue en Navi Redd.