Oom Wanja haal vier Fleur du Cap-toekennings

Die produksie Uncle Vanya / Oom Wanja het onlangs vier van die belangrikste Fleur du Cap-teatertoekennings ingeoes, met veterane Marius Weyers en Antoinette Kellermann as beste akteur en aktrise. Weyers vir sy vertolking van die hoofrol in Oom Wanja en Kellermann vir haar spel in Breathing in. Janice Honeyman het vir haar regie van Oom Wanja die prys as beste regisseur gewen, terwyl James Borthwick as beste byspeler vereer is vir sy vertolking van Dr. Astrov in dieselfde stuk. Patrick Curtis is vir die stuk se stelontwerp bekroon. Jenny Stead is as die beste vroulike byspeler bekroon (as Annie in Breathing in), en die belowendste student is Johan Baird van die Universiteit van Kaapstad.

Die teaterpryse, wat werk op die Kaapse toneelfront vereer, is gedurende die naweek van 8 Maart tydens ‘n spoggeleentheid in die Theatre on the Bay in Kaapstad oorhandig.

Oom Wanja het verlede jaar tydens die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn gedebuteer en later onder meer in die Baxter-teater in Kaapstad opgevoer. Die beste inheemse teks was dié van dramaturg Reza de Wet vir haar stuk Breathing In.

Die Rosalie van der Gucht-prys vir jong regisseurs is aan Sylvaine Strike oorhandig vir Baobabs don’t grow here.

Die skrywer Adam Small is met ‘n spesiale prys vir lewenswerk vereer vir sy bydrae tot teater in Suid-Afrika.

Die beoordelaars was Denise Bester, Danie Botha, Beverley Brommert, Herman van der Westhuizen, Derek Wilson, Len Ashton, Wilhelm Snyman, Marianne Thamm, Laura Twiggs, Rafiek Mammon en Peter Tromp. Conrad Sidego was die voorsittende beampte.

Lewer kommentaar

Leave a Reply