Die Absa KKNK kondig met trots die program van die mylpaal 15de Klein Karoo Nasionale Kunstefees op Oudtshoorn aan. Volgens die uitvoerende hoof van die fees, Brett Pyper, lê die klem vanjaar – ondanks ‘n uitdagende ekonomiese konteks – op gehalte en inklusiwiteit in die genres waarvoor die fees die bekendste is. Die program is meer gefokus en bied steeds ‘n kenmerkende ervaring vir feesgangers aan. Soos van die eerste fees af, sentreer die program rondom teater en musiek, en die interaksie tussen dié twee genres, asook ‘n sterk aanbod van visuele kunste. Die buitelug karakter van die fees as ‘n konteks vir die kunste word met verskeie inisiatiewe uitgebou, die fees posisioneer hom as ‘n toonaangewende platform vir internasionale samewerking, en hy bied sy sterkste program ooit vir ‘n jong volwasse gehoor aan.
Pyper wys uit dat die konteks waarin die Absa KKNK sy program saamstel oor die afgelope 15 jaar heelwat verander het. Waar Oudtshoorn vir etlike jare die enkele geleentheid gebied het om teater- en musiekproduksies van groter omvang in Afrikaans te kan bywoon, het die fees se sukses tot ‘n nasionale kringloop van Afrikaanssprekende feeste, skouspele, en so meer gelei, wat ‘n verskeidenheid bestemmings aan feesgangers bied, dikwels nader aan die huis. Die Absa KKNK bly egter daartoe verbind om oorspronklike werk van omvang en gehalte voor gehore te help bring wat die ander feeste deur die res van die jaar bly voed, en pak dit toenemend in samewerking met mede-feeste en teaters aan. Die aantal gesamentlike/koproduksies in vanjaar se program (3 ko-produksies met Aardklop, en een elk met Innibos, die Baxter-teater, Artscape en die Suidoosterfees), asook ‘n internasionale koproduksie (met die Toneelgroep De Appel in Nederland), toon reeds vordering in hierdie verband.
Die ambisieuse produksie Sewe dae by die Silbersteins, wat die Absa KKNK saam met ‘n aantal ander produksievennote en borge beplan en help ontwikkel het, is tot volgende jaar uitgestel nadat van die produksievennote in die lig van die huidige ekonomiese klimaat hulle betrokkenheid aan die produksie moes opsê. Volgens vervaardiger Karen Meiring is die besluit geneem in belang van die projek wat nie aangepak kan word sonder voldoende befondsing nie. Al die borge wat reeds daarby betrokke is het hulle steun toegesê aan die produksie vir Absa KKNK 2010.

Die Absa KKNK bied vanjaar ‘n première-ervaring in elke sin van die woord aan in verskeie genres van teater – toneel, musiekteater en dansteater. ‘n Keur uit die room van die produksies wat elders in Suid-Afrika en internasionaal te sien is sluit in: Blou uur, Reza de Wet se nuutste drama wat deur Kobus Burger as die perfekte Afrikaanse toneelstuk beskryf is; Schalk Schoombie se opspraakwende stuk Samoerai wat die grense tussen dramatiese fiksie, die werklikheid en die nuus fyn losmaak (beide Blou uur en Samoerai is Absa KKNK-Aardklop koproduksies); David Kramer se Ballade van Koos Sas (‘n voorskou van die internasionale produksie wat later vanjaar na Londen toer), Rachelle Greeff se Nagtegaal teksprys wenner, Die Naaimasjien, met Sandra Prinsloo in die hoofrol; Deon Opperman se moderne klassieke stuk Môre is ‘n lang dag, wat 20 jaar na sy opening deur ‘n geselskap wat Robbie Wessels en Sean Else insluit onder die regie van Albert Maritz herbesoek word; Every year, every day I am walking, die Magnet Theatre se ontroerende stuk fisieke teater wat in agt Afrika-lande en in Londen met lof ontvang is; Jericho!, ‘n uitsonderlike musikale vertelling van die Bybelse verhaal met Anna-Mart van der Merwe, Gys de Villiers, André Howard en van ons voorste musikante saam met die Libertas-koor; en bekroonde Nederlandse dansgeselskap Introdans, wat na meer as ‘n dekade na Oudtshoorn terugkeer.
Beslis aan die snykant van die uitvoerende kunste in Afrikaans is: Sakrament, ‘n vindingryke en uitdagende nuwe teks deur Willem Anker met o.a. Neels Coetzee, Stian Bam, Laudo Liebenberg en Sophia Wessels onder regie van Marthinus Basson; en 2-21, ‘n “musikale garage-skouspel wat worstel tussen Hamlet en MTV” waarin Francois van Coke die hoofrol in ‘n toneelstuk speel, Hunter Kennedy van Fokofpolosiekar die teks skryf, PH (Peach) van Pletzen van Yesterday’s Pupil musiek verskaf, en in die woorde van regisseur Jaco Bouwer “’n abattoir vir ons heilige koeie bied”. Dan sal die MK-Kaktus rock-sessies weer vanjaar tot laataand die grense van Suid-Afrikaanse musiek bly verskuif met bands soos Foto Na Dans, Straatligkinders, Van Coke Kartel, AKing en vele ander.
Ander verhoogproduksies wat by die fees vir die eerste keer gesien word is: Ararat, ‘n omgewingspesifieke toneelstuk wat deur ‘n veelbesproke regisseur- en komponis-span van Nederland met ‘n groep merkwaardige Suid-Afrikaanse akteurs geskep word; Malika Ndlovu se lank verwagte Sister Breyani, ‘n skreeusnaakse en hartverskeurende intieme Suid-Afrikaanse verhoogverhaal; Hart van Sand, ‘n keur uit die Federico Lorca se gedigte wat deur Robert Jeffrey getoonset is, met sang en Flamenco musiek en dans deur die La Rosa Spaanse Dansteater; Bloedbroers, ‘n vertaling van Athol Fugard se The Blood Knot, geregisseer deur Zane Meas met Hennie Jacobs en Christo Davids wat in 7de Laan te siene is; Die Groen Ghoen, ‘n inspirerende, omgewingsbewusmakende stuk fisieke teater met Gys de Villiers en Oscar Petersen; en Leon Kruger se verhoogverwerking van sy gewilde radiovervolgverhaal oor Stanley en Debora Kniediep, Oupa en ouma sit op die stoep.
Vanjaar se program getuig ook van ‘n opwindende samewerkingsooreenkoms met Europa se vooraanstaande fees van omgewingspesifieke kuns, die Oerol-fees op die eiland van Terschelling aan die Noord-See. Pyper verduidelik: “Die pragtige Klein Karoo was nog altyd die agterdoek vir die fees, maar met my aankoms op Oudtshoorn was ek opnuut daarvan oortuig dat ons die uitsonderlike natuurlike en kulturele eienskappe van die Karoo as ‘n letterlike verhoog en doek kan gebruik. My besoek aan Oerol verlede jaar het tot ‘n uitgebreide gesprek gelei met praktisyns in die buiteland en Suid-Afrika wat in omgewingspesifieke installasies en opvoerings spesialiseer, en ons kondig met trots ons eie ekwivalent vir Terschellings Oerol, “Oudtshoorn Oraloor”, vanjaar aan. Hiermee komplimenteer ons die energie en die bekende vibe van die feeskern met venues wat stilte en uitsonderlike natuurskoon bied, alles as ‘n unieke, Klein Karoo konteks vir ‘n kunservaring.”
Die Oudtshoorn Oraloor aspek van die program sluit in: Oudtshoorn Trace, ‘n grootskaalse installasie op ‘n heuwel aan die rand van die dorp wat deur Marcus Neustetter en Bronwyn Lace opgerig sal word; Ararat, die koproduksie met die Toneelgroep De Appel, wat in ‘n volstruiskamp langs die uitsonderlike galery Moooi net buite Oudtshoorn teen skemertyd sal speel en daarna by vanjaar se Oerol-fees in Nederland; en twee buitelug-teaterstukke wat op Oerol bekendheid verwerf het: Onder Constructie, ‘n komiese aanbieding van die geselskap De Jongens, waarin 4 akteurs in 11 karakters verander en met ‘n aansienlike hoeveelheid kombuistoestelle te werk gaan; en Salto Vitale, ‘n skouspel wat met water en vuur tot 14 meter hoog in die lug afspeel en gehore na hulle asem sal laat snak.
Die substansiële klassieke-musiekprogram, wat vanjaar ‘n Mahler simfonie, uitsonderlike koormusiek, en kamermusiek insluit, sluit by die Oudtshoorn Oraloor-konsep aan, aangesien ‘n aantal venues buite die dorp spesiaal vir konserte ingerig word. Sopraan Zanne Stapelberg, kitaarspeler James Grace en altviolis Minette du Toit-Pierce bied hulle nuwe program Musiek uit die Suide (Canciones del Sur) in die De Hoop kerk aan, ‘n pragtige sandsteengebou minder as tien minute se ry buite die dorp wat vanjaar sy eeufees vier, met ‘n Klein Karoo tuin aangeplant word, en ‘n ontwikkelingsprojek vir handwerkers bedryf. Die internasionaal bekroonde Pro Cantu Jeugkoor sing ook hier die Suid-Afrikaanse première van die Estoniese komponis Arvo Pärt se Passio (Johannes Passie) tydens die Paasnaweek, terwyl die besielende Libertas-koor vroeër die week ook daar optree.
Die De Hoop kerk is op die pad na Kruisrivier, waar Hanneke Benade se kunsuitstalling verlede jaar uitverkoop en ‘n Kanna-toekenning verwerf het, en waar sy weer vanjaar ‘n uitstalling kurateer met die landskapwerk van Walter Meyer en Albert Redelinghuys. ‘n Verdere juweel uit die klassieke musiek aanbod wat genoem moet word is ‘n konsert ter ere van Suid-Afrikaanse komponis Kevin Volans, wat ondanks sy vestiging in Europa jaarliks na Kruisrivier kom om te komponeer. Volans is internasionaal die bekendste lewende Suid-Afrikaanse komponis van sy generasie, en om sy 60ste verjaarsdag te vier, bied die Absa KKNK ‘n reeks spesiale verjaarsdagkonserte op die plaas teen die hange van die Swartberge aan waar van die musiek geskryf is.
Nog ‘n kunstenaar wat in die Klein Karoo skeppende werk doen en internasionale bekendheid verwerf het, is ons feeskunstenaar vir visuele kuns, Hylton Nel, wie se guitige keramiekwerk in die buiteland gesogte versamelstukke is en vanjaar vir die eerste keer by die Absa KKNK te sien is. Deur die oog van ons nuwe kurator, Johan Myburg, ontdek feesgangers vanjaar ‘n ryk verskeidenheid kunsvorme wat die geskakeerdheid van die Suid-Afrikaanse visuele kunste weerspieël.
Bo en behalwe ‘n aanbod wat connoisseurs tevrede sal stel, dien die Absa KKNK steeds as ‘n samekoms vir die land se gewildste kunstenaars in hulle onderskeie genres: onder komiese solo-opvoerings is dit Marion Holm, oftewel Sussie, in haar nuwe show Cheers!, Shaleen Surtie-Richards se geliefde Shirley Valentine, wat ‘n jaar na haar opening by die Absa KKNK en haar ontvangs van die Herrie gewildheidsprys terugkeer, Karen Wessels in Groet die Grotvrou, ‘n vertaling van die internasionale treffer deur Koos Kombuis, Leon Kruger se Suurgat 2, en selfs ‘n spesiale feesbesoek deur Leon Schuster.
Onder kontemporêre musiekproduksies, is daar tussen die talle sterre Amanda Strydom (haar 15de KKNK), wat vanjaar saam met Lize Beekman optree, Anna Davel, Andre Schwartz, Chris Chameleon, Cutt Glas (ook hulle 15de KKNK), ddisselblom, die Gespanne Passasiers, Jaco Blomerus, Jak de Priester, Koos Kombuis, Laurinda Hofmeyr, Lucas Maree, Navi Redd, Nianell, Ollie Viljoen, Schalk Joubert, Ses Snare, die briljante malkoppe van Stok, Stef Bos, Steve Hofmeyr, Wouter Kellerman, en Zamar.
En dan het ons nog nie melding gemaak van die Huisgenoot Musiekplaas nie, wat vanjaar weer ‘n dag- en aandprogram op twee verhoë aanbied, Die Burger Tongelos-tent, SAB Hap ‘n Tap Feeskasteel, Klip-inni-Bos, die RSG-verhoog, en ‘n reeks ander buiteverhoë by die fees, waar ons vanjaar met ons borge en medewerkers werk om beter gehalte en ‘n wyer verskeidenheid musiek as tevore aan te bied. In besonder kan feesgangers uitsien na ‘n interessante musikale gesprek tussen die talle tradisionele musiekstyle van die Kaapse platteland op die SABC2!Garob verhoog, wat vanjaar by die amfiteater in die feeskern aangebied word. Hier sal verbygangers by tye van die dag boeremusiek, vastrap, rielmusiek, langarm, jazz en hip-hop teëkom, alles deel van die hedendaagse verkenning van die gedeelde oorspronge van Afrikaanse gemeenskapsmusiek.
As ‘n fees wat in die toekoms van ons bedryf van meet af belê het, bied die Absa KKNK vanjaar ‘n toonaangewende pakket aan graad 10 en 11 leerders, ‘n fees binne die fees wat as Klap! bekend staan, en ‘n keur uit die feesprogram kombineer met gesprekke met kunstenaars, werkswinkels, en tyd om soos ‘n mens slegs by die Absa KKNK kan, te jol. So kweek ons ingeligte en diverse gehore vir toekomstige feeste en die bedryf in die breë.
Ter afsluiting, om ons belegging in die bedryf te verdiep, maak ons by vanjaar se Absa KKNK gebruik van die feit dat ons ‘n samekomsfees vir kunstenaars en kunstebestuurders is, om deur middel van ‘n reeks professionele werkswinkels idees onder mekaar en met ons internasionale besoekers uit te ruil, om die fees se beleid en prosedures op ‘n deursigtige manier te bespreek en oor die toekoms van ons bedryf te gesels, en om koördinering van ons beplanning vir die toekoms met mede-feeste en teaters te bevorder.
Die Absa KKNK vind vanaf 4 tot 11 April 2009 in Oudtshoorn en omgewing plaas. Besprekings vir die publiek open op 18 Februarie by Computicket. Belangstellendes wat voor dan wil bespreek, en voordele daarby wil ontvang, word aangemoedig om by die fees se Kliek!-klub aan te sluit.
