Twee vriendinne se neuroses word blootgelê wanneer faktore hul dwing om in ‘n trokdrywers-motel te oornag en hulle skielik ontdek dat die vorige kliënt nooit uitgeboek het nie: hy lê dood in die bad.
Vasgevang in die kamer ontaard hul aand in ‘n fantasiespel van moontlike oorsake, wat uiteindelik meer oor hulself as die stomme lyk ontbloot. Hul spel word ‘n ritueel waarin vlymskerp humor slegs die meslem daaronder verskuil. Sal hul die fyn lyn kan bly stap? Of wag hul albei op ‘n wond?
Kruissteek is ‘n donker komedie wat die intimiteit tussen vriendinne ondersoek en die gevolge daarvan as hul weereens met ‘n koue man opgeskeep sit.
Teks en regie word behartig deur die Kanna-bekroonde Adriaan Meyer. Met Elizabeth de Villiers en Stephanie Hough.

