Lewensreg

Lewensreg, vars uit die pen van die bekroonde skrywer, Jan van Tonder, is ‘n oënskynlik realistiese verhaal van twee vreemde ou broers, Brand en Sewes van Aarde, wat langs ‘n begraafplaas woon.

Sewes se dagtaak is grafgrawer, maar hy bring heelwat tyd in sy grafte deur. Wat maak hy daar? Brand het ‘n obsessie om gebreekte kruise en engele reg te maak. Fortuin, ‘n gebreklike bruinman, sit reeds vir dertig jaar langs die pampoene op die huis se dak. Hoekom word hy geïgnoreer? Is hy lewend of reeds dood?

In die interessante stuk spook die verlede by die karakters en gou word die intrige meer ingewikkeld wanneer Frans Conradie verder in die verlede kom delf. Jare gelede was daar ‘n ontploffing by die myn. Wie is in die myn dood en wat sit agter die ontploffing? Hoekom kan Brand nie Frans se sterwende vader vergewe nie?

In die misterieuse toneelstuk verskyn karakters wat die gehoor laat regop sit met vrae oor wie in die stuk lewend en wie moontlik dood is? Wat beteken dit om te lewe? Hoe weet ‘n mens dat jy lewe? Wie is Ana, Anasta en Anastasia? Teen die einde van die stuk word duistere motiewe en diep geheime ontrafel. Sal die verlede vergeet kan word en versoening intree?

Jan van Tonder se dialoog is vlymskerp en terselftertyd komies en tragies terwyl die aksie nimmer voorspelbaar word nie. Die regie word waargeneem deur Nico Luwes, skrywer van onder meer Knorries en die Krisis en die 2005-wenstuk van die Sanlamprys, Zollie. Feesgangers sal ook sy regie van Straties deur Braam van der Vyver en Molière se Ipekonders van vorige feeste onthou.

Lewer kommentaar

Leave a Reply