Vrystaat wen Sanlam-teaterprys

Die dramadepartement van die Universiteit van die Vrystaat is Saterdag 7 April by die Absa KKNK op Oudtshoorn met 2007 se Sanlamprys vir Afrikaanse Teater (SPAT) bekroon.

Hulle steek daarmee ‘n stewige R100 000 in die sak op voorwaarde dat die wenproduksie deur die loop van die jaar by twee ander kunstefeeste opgevoer word.

Dit is die tweede keer dat Vrystaat dié prys wen – die grootste in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse teater vir die ontwikkeling van nuwe Afrikaanse teaterproduksies.

Die wenstuk, Lewensreg, uit die pen van Jan van Tonder, is opgevoer onder spelleiding van Nico Luwes.

Die individuele pryse wat elkeen R20 000 werd is, is toegeken aan
· Lancea Crafford as Liesbet Visser in Die Maket van die Universiteit Stellenbosch (beste akteur),
· Jan van Tonder (beste dramaturg), en
· Nico Luwes, wat as beste regisseur aangewys is, nadat hy in 2005 as dramaturg bekroon is.

‘n Silwertoekenning van R10 000 vir naasbeste akteur was vir die eerste keer op die spel en JP du Plessis in Lewensreg stap daarmee weg.

SPAT 2007 wenners
SPAT 2007 wenners
Die beoordelaars was Pieter Fourie, Margot Luyt, Hennie van Greunen, Anthony Wilson en Jeanne Goosen.

Die finaliste wat om die pryse ter waarde van altesame R270 000 meegeding het, was
· Die Maket, deur Daleen Kruger, Universiteit Stellenbosch;
· Lewensreg, deur Jan van Tonder, Universiteit van Vrystaat;
· Kaf, deur Ilne Fourie, Universiteit van Vrystaat ; en
· Terugkere, deur Wim Vorster, Tshwane Universiteit vir Tegnologie.

Stellenbosch het die toekenning in 2004 en 2006 gewen, terwyl die Vrystaters ook in 2005 koning gekraai het.

En nou kan dramaturge en voornemende toneelskrywers naderstaan vir 2008 se kompetisie. Die finaliste vir SPAT word gekies op grond van oorspronklike Afrikaanse dramatekste wat aanvanklik deur die skrywers vir oorweging aan enige van die dramadepartemente by universiteite en technikons in Suid-Afrika voorgelê word en dan uiteindelik deur die dramadepartemente vir beoordeling ingeskryf word. Die sluitingsdatum om tekste aan dramadepartemente voor te lê, is 15 Augustus 2007.

Die finaliste vir 2008 sal teen 5 Oktober 2007 aangekondig word en hulle produksies (hoogstens vier) sal dan met pryse van R25 000 elk ingestudeer word vir finale beoordeling by Absa KKNK 2008.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar