Teater-intervarsity by KKNK

Rugby-intervarsities maak deesdae maar min opslae. Dit beloof egter om ‘n gans ander storie te wees in die teater-intervarsity tussen die universiteite van Stellenbosch en die Vrystaat en Tshwane Universiteit vir Tegnologie by die Absa KKNK op Oudtshoorn volgende week.

Want niks minder as die Sanlam-prys vir Afrikaanse Teater (SPAT) vir 2007 is op die spel nie – die grootste prys in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse teater vir die ontwikkeling van Afrikaanse teaterproduksies.

Die vier finaliste wat nou ingestudeer is en met ‘n borgskap van R25 000 elk by die KKNK opgevoer gaan word, almal in die Sanlam Griesselsaal, is:
· Die Maket, deur Daleen Kruger, Universiteit Stellenbosch (5 April 10:00, 6 April 20:00)
· Lewensreg, deur Jan van Tonder, Universiteit van Vrystaat (4 April 17:30, 6 April 15:00)
· Kaf, deur Ilne Fourie, Universiteit van Vrystaat (4 April 12:00, 5 April 20:00); en
· Terugkere, deur Wim Vorster, Tshwane Universiteit vir Tegnologie (5 April 16:00, 6 April 10:00).

Daarna word die algehele wenner en ook die beste akteur, regisseur en dramaturg aangewys. Die algehele wenproduksie word nog twee keer opgevoer, op 7 April om 20:00 en die volgende oggend om 10:00.

Vir die wendramadepartement wag ‘n stewige R100 000 op voorwaarde dat die wenproduksie by twee ander kunstefeeste opgevoer word. Die individuele pryse is elkeen R20 000 werd en ‘n silwertoekenning van R10 000 vir naasbeste akteur is vir die eerste keer op die spel. Indien die beoordelaars erkenning wil gee aan ‘n produksie se dekor, tegniese versorging of ontwerp, sal hulle daarvoor ‘n sertifikaat van erkenning ontvang.

Die totale prysgeld van altesame R270 000 maak die Sanlam-prys vir 2007 die grootste nog. Stellenbosch het die toekenning in 2004 en 2006 gewen, terwyl die Vrystaters in 2005 koning gekraai het.

Terwyl die Sanlam-prys vir 2007 sy hoogtepunt nader, kan dramaturge en voornemende toneelskrywers naderstaan vir 2008 se kompetisie.

Die finaliste word gekies op grond van oorspronklike Afrikaanse dramatekste wat aanvanklik deur die skrywers vir oorweging aan enige van die dramadepartemente by universiteite en technikons in Suid-Afrika voorgelê word en dan uiteindelik deur hulle vir beoordeling ingeskryf word. Die sluitingsdatum dáárvoor is 15 Augustus 2007. Die finaliste vir 2008 sal teen 5 Oktober 2007 aangekondig word en hulle produksies instudeer vir finale beoordeling by Absa KKNK 2008.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar