Ons almal se geliefde Liewe Heksie is terug. Dié keer span sy haar besem in as ’n visstok, maar dit sukkel maar om ’n vis te laat byt. Sy raak vreeslik opgewonde as sy wel daarin slaag: “Haai oe, dis vir my so lekker as ek ‘n vis vang. Dan sing ek sommer ‘n liedjie en die vis wil saam sing. Ek weet, want sy bek gaan so oop en toe. Of dalk gaap hy, omdat hy moeg is, dan gooi ek hom terug en vang ‘n nuwe ene.” Maar hoekom raak Koning Rosekrans se forelle dan minder? Is Levinia die skuldige of is die nare Geelheks ook weer in die prentjie? Liewe Heksie het dringend julle hulp nodig. Verna Vels se immergroen verhale kry lewe met baie gehoordeelname en voortsnellende aksie. Margit Meyer-Rödenbeck is die nimlike Heksie en die uiters talentvolle Deon van Zyl draf die rolle van Karel Kat, die Geelheks en Koning Rosekrans lag-lag kaf.
In 2022 het dieselfde span die ABSA KKNK Kanna toekenning ontvang vir beste kinderteater en is in 2023 genomineer vir ‘n Fleur du Cap toekenning. Hierdie splinternuwe Heksie produksie, is pas weer bekroon met ‘n KKNK toekenning vir beste Kinderteater.
Die tydlose Liewe Heksie is perfekte vermaak vir die hele gesin.
MET Margit Meyer-Rödenbeck en Deon van Zyl TEKS Margit Meyer-Rodenbeck na gelang van Verna Vels se stories REGIE Margit Meyer-Rödenbeck VERVAARDIGER Arena Produksiehuis
3 JUNIE THE DRAMAFACTORY, STRAND 10h00 & 12h00 www.thedramafactory.co.za
10 JUNIE CURRO DURBANVILLE HOËRSKOOL Computicket