Maties en Kovsies in Teater-Intervarsity by KKNK

Die Sanlam-prys vir Afrikaanse Teater (SPAT) vir 2008 gaan tussen die universiteite van Stellenbosch en die Vrystaat uitgespook word. Dié toneelstryd, die vyfde van dié aard, word volgende jaar van 21 tot 29 Maart by die Absa KKNK op Oudtshoorn beslis.

Die totale prysgeld van altesame R270 000 per jaar maak SPAT die grootste vir die ontwikkeling van Afrikaanse teaterproduksies.

Die finaliste is gekies op grond van oorspronklike Afrikaanse dramatekste wat aanvanklik deur die skrywers vir oorweging aan enige van die dramadepartemente by universiteite en universiteite vir tegnologie in Suid-Afrika voorgelê is en uiteindelik deur hulle vir beoordeling ingeskryf is.

Volgens Martie de Lange, borgskapbestuurder van Sanlam, loop Maties en Kovsies tans kop aan kop – Stellenbosch het die toekenning in 2004 en 2006 gewen, terwyl die Vrystaters in 2005 en 2007 met die louere weggestap het.

“Dié instellings laat hulle nie onbetuig oor wat die SPAT-vertoonvenster vir hulle beteken en watter geleenthede die wisselwerking tussen die regisseurs, studente-akteurs en dramaturge inhou nie. Verskeie studente-akteurs wat in vorige kompetisie-opvoerings opgetree het, het sedertdien rolle in ander professionele produksies losgeslaan,” sê Martie.

Drie splinternuwe suksesvolle inskrywings, wat eers deur die instellings oorweeg en daarna deur die SPAT-paneel beoordeel is, gaan nou ingestudeer en met ‘n borgskap van R25 000 elk by die KKNK opgevoer word. Die finaliste is:

· Die begrafnis, deur Phil Janse (skuilnaam), ingeskryf deur Universiteit van die Vrystaat
· Sara, deur Richard Bertelsmann (Universiteit Stellenbosch)
· Mymering, deur Hans Oosthuizen (Universiteit Stellenbosch)

By dié fees word die algehele wenner en ook die beste akteurs, regisseur en dramaturg aangewys.

Vir die wendramadepartement wag ‘n stewige R100 000 (op voorwaarde dat die wenproduksie by twee ander kunstefeeste opgevoer word) en individuele pryse ter waarde van R70 000 is op die spel.

Die SPAT-paneellede is Hennie van Greunen, Jeanne Goosen, Ilse van Hemert, Mike van Graan en Elize Cawood.

Lewer kommentaar

Leave a Reply