Prinses Jana en die Brullebak

Die gewilde kinderteaterstuk, die vyfde in ‘n reeks verhoogproduksies deur Anna Emm Productions, word vir die heel eerste keer in die Klein Libertas Teater in Stellenbosch opgevoer.

Prinses Jana en die Brullebak is net so energiek en kindervriendelik soos sy voorgangers, Prins Dirkie en die Seerower Kat, Prinses Mientjie en die Ruimtemaniak, Prins Thomas en die Willewragtig en Prins Dirkie en die Seerower Kat.

Die reeks kinderteaterproduksies word geskep rondom karaktertjies in die stories op Anna Emm Productions se gewilde kinderstorie reeks op CD, wat tans landswyd in musiekwinkels beskikbaar is. Die helde is almal klein prinsies en prinsessies wat op allerhande verbeeldingsvlugte en avonture gaan. Kinders van alle ouderdomme kan identifiseer met die kinderwêreld waarin “‘n slapie” ‘n klein blou kaboutertjie is, “bakvissies” regtig visse is en waar daar ‘n regtige egtige “groot gevaar” in die donker bos wegkruip!

Prinses Jana kyk heeltemal te veel televisie. Die koning het al gesê sy sal regtig vierkantige oë kry! Maar vir die klein prinsessie is daar niks wonderliker as die bewegende prentjies nie. Wanneer die “remote controll” eendag spoorloos verdwyn, kom Prinses Jana op ‘n geheime televisie wêreld af – ‘n wêreld waar die nare Brullebak sy eie slinkse planne het om al die kinders sy slawe te maak! Maar hoekom klink dit alles so vreeslik bekend?

Met uitstekende spel en regie onder leiding van Adele van de Venter, en oulike nuwe liedjies deur Jani Coetzee, word hierdie verruklike kinderstorie lewendig in ‘n mengelmoes van verbeelding en beweging. ‘n Moet vir alle klein rakkertjies wat ook graag op allerhande verbeeldingsreise gaan en dikwels heeltemal te veel televisie kyk!

Anna Emm is vertroud en gemaklik as skrywer vir die kindermark en haar verbeeldingryke stories is ewe gewild onder kinders en grootmense. Haar karakters is oorspronklik en kindervriendelik. Hierdie teaterstukke is, net soos die stories op die CDs, ‘n lekker bederf vir almal wat nog jonk van gees is!

(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)

Lewer kommentaar

Leave a Reply