Corlia Fourie vang Suid-Afrika se ontstuimige geskiedenis en die tyd wat verandering in Suid-Afrika ingelui het, vas in ‘n roerende drama oor menslike verhoudings. Die huislike verhoudings, dié tussen moeder en dogters en die verhoudings tussen susters word gekontrasteer met die verhoudings tussen swart en wit en die gebeure wat gedurende dié onseker tydperk van ons land, afspeel.
Dis 1976. In Soweto brand die skole en kinders word doodgeskiet en hulle sê dis Afrikaans se skuld. In die Paarl, bakermat van Afrikaans, is ‘n Afrikaanse ma en haar drie dogters vasgevang in hul eie intriges. Tot die onluste Paarl toe kom en Susie, die kleurling huishulp se verhaal ons bewus maak van ‘ander’ moeders en ‘ander’ dogters met ‘ander’, en tog ook dieselfde, drome.
In ‘n ander tyd, na soveel jare en soveel veranderinge wat ná 1976 plaasgevind het, bly Moeders en Dogters ‘n roerende drama wat menslike behoeftes, drome en vrese aanraak.
Susanne Beyers, alom bekend vir televisie- (Hart van Staal), radio- en teaterwerk (Die Uurwerk kantel, Susanna, die geliefde, Yerma en Want kyk, die bruidegom is hier), vertolk die rol van die moeder van die huis. Die 3 dogters word deur drie opwindende jong aktrises vertolk. Leanna Dreyer het nie net al naam gemaak as sangeres nie (Stroop), sy is ook ‘n aktrise wat die verhoë van ons land al aan die brand gespeel het in produksies soos Drie Susters, ‘n Plek. Elizabeth de Villiers wat die rol van die jongste suster vertolk, het in 2005 geskitter in haar vertolking in Wilma Stockenström se Abjater wat so lag. Martelize Kolver, welbekende radiostem en aktrise in produksies soos Die Francois Toerien-show, Eet Alles, Ysterasters en Sister Mary Ignatius explains it all for you, vertolk die rol van die oudste suster. Chrisy-Ann Julies kom uit Stellenbosch waar sy al vir ‘n geruime tyd by die Breughel-teater en tans vir die African Centre for HIV/AIDS Management by die Universiteit van Stellenbosch, betrokke is.
Juanita Swanepoel, veelbekroonde regisseur van produksies soos Yerma, Lief-lief deur Afrikaans, Roadkill/Padkos, Jan en Jorie en Pas de Deux behartig die regie van Moeders en Dogters.
Met: Susanne Beyers, Martelize Kolver, Elizabeth de Villiers, Leanna Dreyer en Chrisy-Ann Julies.