Jan en Jorie

"Ons het ´n argument begin, en dit nooit klaargemaak nie" het Marjorie Wallace op ´n keer gesê oor die geheim van haar verhouding met Jan Rabie. Jan en Jorie vertel die storie van ´n verhouding. Dit vertel die storie van skrywer Jan Rabie en skilder Marjorie Wallace. Dit vertel die storie van die onderhandelinge tussen die Self en die Ander, van die "ek" se poging om die Ander te verstaan.

Die romantiese skrywers-ikoon van "Sestig", Jan Rabie, en sy rebelse anti-establishment vrou, die skilder Marjorie Wallace, se lewe en werk getuig van hierdie soeke. In sy grensdeurbrekende 21 word hierdie onderhandelingsproses onder meer geïllustreer deur die verhale Droogte, Lied oor niemandsland en Plek vir een. Sy latere werke verfyn die argument deur meer spesifiek te fokus op die Suid-Afrikaanse werklikheid van onder meer rasse-konflik. Ook Wallace het gesukkel om haar voortdurend veranderende omgewing, asook haar plek daarin, te interpreteer. So word vertel dat sy haar eerste ses maande in Afrika glad nie kon skilder nie: die landskap was te vreemd, die helderheid van die lug/lig te onbekend. In haar eerste skilderye van bruin mense lyk die figure of te Oosters of te Westers. Maar haar volgehoue pogings om die Ander te leer ken, maak dat sy vandag deur kunsteoretici beskou word as een van die eerste wit kunstenaars wat dit reggekry het om die bruin gemeenskap op ´n nie-patriargale wyse uit te beeld. Beide Wallace en Rabie het konstant die vreemde en onbekende opgesoek, en as reisigers was hulle in konstante onderhandelinge met die Ander verwikkel. Iets waarvan beide se werk getuig.

In Jan en Jorie maak ons gebruik van Jan se verhale en Jorie se skilderye om ook te vertel oor die mees intieme onderhandelinge tussen self en Ander, dié onderhandelinge binne die liefdesverhouding, die argument tussen Jan en Jorie. Dit is egter meer as ´n woordkunsprogram: alhoewel daar met reeds bestaande teks omgegaan word, gebruik Malan Steyn biografiese gegewens om nuwe dialoog te skep tussen die karakters Jan en Jorie. Die nuutgeskrewe teks sluit aan by die absurde en surrealistiese styl van Rabie se vroeë werk, en vermeng dit met die anekdotiese realisme van sy latere werk. Wallace se werk word ook deur middel van projeksies gebruik om die storie te vertel: nie net vorm die skilderye die agtergrond waarteen die reis afspeel nie; gemanipuleerde weergawes van haar kuns word ook gebruik om te wys op die proses waardeur die mens ´n eie realiteit skep. Die karakter Jorie word dus die stelverwer wat die realiteit kan verander na gelang van die situasie.

As karakters in ´n toneelstuk word Jan en Jorie die argetipe mede-reisigers wat saam ´n onderstebo wêreld verken en daaraan probeer sin gee. Die argument word die vertrekpunt waardeur Jan en Jorie mekaar, en ook saam die wêreld om hulle, probeer vind. Maar wat gebeur as die reismaat, die mede-skepper van jou werklikheid, nie meer daar is nie? Ten slotte wil "Jan en Jorie" ook die storie vertel van Wallace se laaste skilderye: Jorie se afskeid neem van Jan, die verlatenheid van haar somerstoep, en die uitskilder van haarself uit haar werk.

Nicole Holm vertolk die rol van Marjorie Wallace en Francois Toerien die van Jan Rabie. Die teksskrywer is Malan Steyn en die regie is behartig deur Juanita Swanepoel.

Lewer kommentaar

Leave a Reply