Hande innie as

Almal wou hom hê – sy het hom gekry. Hy was so mooi, so slim, so sterk. Hy kon die middag die wendrie druk in die finals teen Menlo Park, en die aand die hero wees in die skoolrevue.

Ja, sy het hom gekry. Sy het hom, om die waarheid te sê, jare later, nog steeds. Tans natuurlik effe oorgewig, effe bles, en effe vals. Hy hyg as hy kafee toe stap om die koerant te gaan koop, hy sukkel om sy sleutels te kry, hy sukkel om die noot te kry, en rêrig, hy sukkel om die tannie te hou.

Maar weet hy dit? Kom hy dit agter? Natuurlik nie! Hy is immers die oorspronklike Don Juan; the stuff that dreams are made of. Hy luier miskien tydelik in neutraal, maar as hierdie nuwe besigheid net van die grond af kom, hardloop hy weer op al die enjins. Miskien kan sy ou groot skoolpêl (en grootste kompetisie) ên handjie bysit met die bemarking. Of hoe?

Meanwhile, back at the ranch, sit die tannie met die oorblyfsels, die reste, (die weggooiblare?) van haar drome. Sy sit en werk aan die temamusiek vir die blêrrie advertensie.

The plot is thickening…

Die regie is deur Sandra Prinsloo behartig en Alexa Strachan was verantwoordelik vir die teks.

Lewer kommentaar

Leave a Reply