‘n Handvol gruis

´n Reis met vers en lied deur die lewe van C Louis Leipoldt.

Dit is gevolg deur ´n oorgangsfase waar die gedig eers voorgedra en daarna gesing is, en het ontwikkel tot ´n volwaardige vertoning van ´n verskeidenheid van Leipoldt se pragtige woorde.

Johann Nel speel die rol van Leipoldt en dra voor, terwyl Leon Schelhase as Leipoldt se jeugdige alterego figureer en die toonsettings sing. Derek Fordyce begelei op klavier en Juanita Swanepoel behartig die spelleiding. Daar word ten minste twintig Leipoldt gedigte gesing en gelees en daar word ook oor Leipoldt self vertel of uitgebeeld, bv. ´n Speenvarkie uit Polfyntjies vir die proe.

Derek Fordyce skryf van kleins af musiek. Sy onlangse ontdekking van die skoonheid van Leipoldt se verse het hom geïnspireer om van hulle te toonset. Hy het die musiek geskryf vir sewe aanbiedings wat vanaf 1994 na beide die KKNK en die Grahamstad Feeste geneem is, waaronder Krotoa, Eporia, Johanna en Lossie liefde vir later.

Johann Nel, ´n Fleur du Cap benoemde akteur en bekende by kunstefeeste, is benewens vir sy boek- en poësievoorlesings op die radio (Vers en Klank, en romans soos Raaiselkind), veral bekend vir sy eenmansvertonings. Uitverkoop!, Praat van die duiwel, Ha-ha-ha! Afrika!, Sovéél wat ons vir mekaar moet sê en Broer Loer … Ha-ha-ha! Afrika! was ook op Ukkasie 2001 se hooffees in Londen te sien.

Leon Schelhase is ´n jong professionele sanger en tans student aan die Universiteit van Kaapstad. Hy was lid van verskeie jeugkore en neem deel aan musiekblyspele, soos die sprankelende Broadway Parade wat onlangs in die Baxter Teater opgevoer is. Hy het ook al verskeie toekennings vir sy verhoogwerk ontvang.

Juanita Swanepoel se teaterloopbaan het in 1973 begin as aktrise by die destydse KRUIK. Vanaf 1980 is sy vir ongeveer 18 jaar as dosent verbonde aan die Departement Drama aan die Universiteit Stellenbosch. Sedert 1998 werk sy vryskut as regisseur. Onlangse produksies sluit in Martjie, Elke boemelaar se droom, Praat van die Duiwel, Dalk is ons almal so en Yerma.

Gedigte is uit hoofsaaklik drie bundels geneem: Oom Gert vertel en ander gedigte (1911), Uit Drie werelddele (1923) en Skoonheidstroos (1932). Baie daarvan is Slampamperliedjies. Die musiek is heel melodieryk, harmonieus en interessant – komplementeer die gedigte sonder om hulle te oorheers.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar