‘n Venster vol Son

Lisbé Smuts-Smith, in lewe lektrise aan die Departement van Linguistiek en Afrika-tale aan die Universiteit van Kaapstad, is vroeg die oggend op Maandag 7 Februarie 2005 in haar historiese huis, Twist Niet, op Wellington, vermoor.

Alexa (Fuff) Kirsten het haar buurvrou se noodkrete gehoor en haar te hulp gesnel. Alexa is sewentien keer met dieselfde skroewedraaier gesteek en vir dood agtergelaat. Die eenmanvertoning ‘n Venster Vol Son is die verhaal van Alexa se langsame herstel. Sy beweeg steeds met moeite en het geen gevoel aan die regterkant van haar lyf nie. Dit is ook die verhaal van die pad na vergifnis.

In haar eie woorde “I feel that sharing this story can be therapeutic for many of the other survivors of violent crime”. Met die eerste herdenking van die moord op 7 Februarie 2006 het Fuff en Saskia, dogter van Lisbe, begin met die inbou van gekleurde glasstukke en brokstukke van spieëls in die muur van Fuff se huis in Albertstraat.

Die inhoud van die vertoning is grootliks gegrond op ‘n reeks briewe wat Faff aan Lisbé geskryf het na haar dood. Die produksie is tydens paasfees 2007 vir die eerste keer met groot sukses opgevoer. Op populere aandrang is dit daarna in die Breytenbach Sentrum op Wellington, die Ou Meulteater en die Toringkerksaal in Paarl aangebied vir vol sale.

Die teks is geskryf deur Winnie Rust skryfster van Martha -die verhaal van Martha Solomons, wat op die kortlys was vir die Jan Rabieprys. Mariaan Kitching, bekende in teaterkringe in die Paarl-omgewing, vertolk die rol van Fuff Kirsten. Juanita Swanepoel het die regie behartig.

(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar