Naòmi Morgan

Die sukses van ´n eenmanstuk of ´n stuk met ´n klein rolverdeling lê in ´n goed geskrewe teks, klank en vindingryke regie en ´n akteur wat die essensie van ´n karakter kan blootlê.

Die regisseur Dalene Krige kombineer historiese gegewens met ´n moderne, multi-media aanslag. Klank- en beeldmateriaal (skyfies van onder meer Vincent van Gogh se skilderye) word teen ´n skerm geprojekteer om soos die sinopsis aandui, “tussen werklikheid en herinnering of hallusinasies te onderskei.” Die temas van “de kleine/onbenullige man” word verder gevoer deur die “beknoptheid” van die verhoog, minimalistiese beweging versus lang monoloë en die beklemtoning van Cor se sieldodende daaglikse roetine (gereedskap op die verhoog).

HH (Haydee Hollander): Cor stel die dramaturg voor baie uitdagings. Daar is die assosiasie met sy beroemde skilder-broer, die bande tussen Afrikaans en Nederlands, ´n Nederlander (of dan buitelander) se ervarings van ´n ander land wat nooit ´n tuiste word nie, ´n oorlog (die Anglo Boere-oorlog) en die skryf van ´n Afrikaanse teks by monde van ´n Nederlander (Cor).

NM (Naòmi Morgan): Ja, ´n hele lewe moet in ´n uur en ´n half vertel word. Cor is eintlik ´n historiese drama, soos Büchner se Danton, behalwe dat dit die geskiedenis en die biografie van ´n “kleine man” is. Die uitdaging was dus om die gegewens te struktureer en om die essensie vas te lê van die belangrikste momente in Cor se lewe.

Wat die struktuur betref, wou ek vir hierdie “onbenullige” karakter dieselfde ruimte gee as vir ´n tragiese held, daarom die 5 tonele wat elk die 5 belangrikste keuses in ´n mens se lewe verteenwoordig (keuse van land, van beroep, van lewensmaat, van Saak waarvoor jy dit feil het, en die keuse om ´n einde aan alles te maak of om te probeer oorleef). Cor was uiteraard onlosmaaklik verbind aan Vincent, hulle het selfs dieselfde naam gehad (Cor is Cornelis Vincent gedoop); Vincent se korrespondensie het my baie gehelp om iets oor die verhouding tussen Vincent en Cor te wete te kom. Dit wat nie in die korrespondensie staan nie, is net so belangrik: die briefwisseling is tussen Vincent en Theo, ander korrespondente is van minder belang. Cor sou waarskynlik ´n beter verhouding met Vincent wou gehad het, maar Vincent het eintlik niemand anders as Theo nodig gehad nie.

JP du Plessis as Cor van Gogh

JP du Plessis as Cor van Gogh

Cor kom in 1871 na Suid-Afrika en trou ook uiteindelik met ´n Afrikaanse vrou. Maar ek probeer aantoon dat Afrikaners en Nederlanders nie noodwendig maklik aanpasbaar is net omdat ons mekaar min of meer kan verstaan nie. Dikwels faal die kommunikasie op ander vlakke as taal. Cor het soos baie buitelanders aan die Anglo-Boereoorlog deegeneem, aan Boerekant. Hy is vroeg in die oorlog (in April 1900) gevange geneem buite Brandfort en het waarskynlik selfmoord gepleeg. Dit is ook interessante gegewe om mee te werk, wanneer ´n soldaat in ´n oorlog beswyk aan ´n koeëlwond wat nie deur die vyand toegedien is nie.

HH: Pleks van met ´n kwas, skilder Cor met woorde. Die regisseur Dalene Krige beskryf jou teks as “taal wat sing”, ´n groot kompliment vir enige dramaturg. ´n Paar aanhalings verskyn hieronder, dit is passasies wat ´n mens laat dink aan Out of Africa, en aan die skilderye van Vincent van Gogh (sy ‘Koringveld in die reën’ en ‘Koringvelde met hooibale’).

Toneel 1 – Boomwortels
Cor: Dan is dit Afrika! Om saans by ´n vuur te sit totdat die rookreuk deur al die lae van jou wintersklere getrek het tot op jou vel. ´n Roeteriger reuk as die twakreuk aan jou wys- en middelvinger … In die winter is hierdie ´n land van rook. Vandat die son begin ondergaan, kom lê die rook soos ´n stinkende, mensgemaakte mis in die valleie en oor die nedersettings In die winter kan jy die natuur nie ruik nie. Net die rook. As ek lank genoeg hier bly, sal ek seker leer om die verskillende soorte rook te onderskei: hout of steenkool, gras of gedroogte mis. (In ´n brief aan sy moeder): “Liewe moeder: Dis die oop vure wat die brande veroorsaak. Die mense maak vuur met enigiets waarop hulle hul hande kan lê, in die middel van die droogste grasveld, die wind kom op en dan skielik kruip ´n vlak, geelrooi rivier oor die vlakte. Dis die gekraak wat ek die meeste haat: grasstingels wat middeldeur knak. Bome wat neergevel word deur ´n onsigbare byl. Maar hoe beskryf ´n mens die geluide wat daarmee saamgaan, die lawaai veroorsaak deur die algehele vertering van die bekende omgewing waaraan ´n mens gewoond geraak het?”

[…]

Cor: Die wêreld was skielik vormloos. Bome en dakke het voor my oë gesmelt in lang, koue druppels. Blare en plaasimplemente het opgelos in ´n donker mistigheid, nes die tekens van lewe waarmee ek die pad gemerk het: ´n roete uitgemeet in asemrige wolkies.

NM: Dankie, dit is vir my ´n riem onder die hart, want omdat Cor eintlik ´n mislukking van alles maak, wou ek hom ten minste poëtiese dialoog gee. Ek wou hê dat die gehoor van hom moes hou, dat hulle hartseer moes wees wanneer hy aan die einde van die stuk die sneller aftrek. Daar het baie van my eie herinneringe aan plekke in die skryf van dié spesifieke twee aanhalings gegaan: die eerste aanhaling is ´n herinnering aan die pad tussen Pretoria en Bloemfontein wat ek tussen 2000 en 2002 gereeld moes ry omdat ek lesings by UNISA sowel as Kovsies gegee het. Dikwels het die pad naby die Grasmere Plaza aan beide kante gebrand. In die tweede aanhaling lê beelde opgesluit wat ek uit die koue noorde gebring het (ek het 6 jaar in Switzerland gebly). En daar lê ook ´n eerbetoon aan een van my gunsteling digters, TS Eliot, daarin opgesluit (I have measured out my life with coffee spoons).

HH: Oorspronlik was Cor, die ander van Gogh bedoel as radiodrama. Hoe is daar aangepas vir die verhoog?

NM: Daleen Krige, die regisseuse, het wonderbaarlik ´n soort goue middeweg tussen ´n verhoogstuk en ´n radiodrama gevind: daar is nie baie handeling in die stuk nie, die karakters vertel eintlik meer as wat hulle doen, en daarby vind die gebeure plaas oor ´n redelik uitgerekte periode en in verskillende lande (Nederland, Engeland, Frankryk, Suid-Afrika). Sy maak gebruik van ´n lieflike klankbaan wat met moeite en vernuf saamgestel is deur een van die plaaslike radiostasies (Rosestad) en van projeksies van skilderye en historiese foto’s. Die stuk is steeds taamlik staties, maar dit is eintlik ook die idee: Cor bly ´n outsider-figuur: daar is ´n hegte band tussen die koorlede, maar Cor kan hulle nie hoor nie. Hy voer eintlik ´n monoloog, en daar is ´n ondeurbreekbare muur tussen hom en die koor. Ek is dankbaar dat die drama opgevoer eerder as uitgesaai is: die akteurs het wonderlike gesigspel gelewer. Veral JP du Plessis, in die rol van Cor, het ´n roerende vertolking gegee En dit was die moeite werd om te sien hoe sy swart hare rooi word vir die rol van ´n Hollander!

HH: Dien Cor as ´n soort voorspel tot soortgelyke werk? Stukke met hoofsaaklik monoloë pleks van dialoog en geskryf vir een karakter?

NM: Ek is bevrees dit is besig om ´n neiging te word by my, maar dit is miskien nie noodwendig ´n goeie ding nie. Dit is waarskynlik omdat die karakters wat my interesseer, alleenlopers is. Daar is byvoorbeeld ´n stuk oor Helen Martins in my laai, wat lank voor Cor geskryf is. Dit sou ook beskryf kon word as ´n monoloog met (ander) stembegeleiding, maar in die toekoms gaan ek ook probeer om stukke te skryf met meer interaksie!

HH: Hoeveel van die temas in Cor is outobiografies? Jy het self vir meer as tien jaar in die buiteland gewoon, ´n ander taal gepraat, sin probeer maak aan jou eie toekoms.

NM: ´n Hele paar, dink ek. Die meeste mense wat lank in die buiteland bly, balanseer naderhand op twee of meer kontinente. En jy wonder waar jy jou die beste sou kon uitleef: ek doseer byvoorbeeld Franse letterkunde en kultuur, en die feit dat ek nie Franse toneelstukke kan bywoon en die nuutste Franse films kan sien nie, is ´n groot gemis. ´n Mens se professionele aktiwiteite vervreem jou ook tot ´n mate van die res van die plaaslike bevolking: jy kan nie eintlik jou verwondering by die ontdekking van ´n besondere sin of versreël met jou huismense deel nie. Wanneer ek wel oorsee kom, voel ek enersyds dat ek tuis is in my intellektuele en kulturele heimat, maar andersyds dat inspirasie vir my skryfwerk eerder uit Suid-Afrika kom. Of miskien uit die noodwendige spanning tussen die twee ruimtes, soos in Cor die geval is? Omdat ek so lank oorsee gewoon het (eers in Frankryk, toe in Switzerland en later in Italië), het ek ook soos Cor in Toneel 3 (waarin die verhouding met sy vrou ontleed word) die vraag gevra oor die aanpasbaarheid van mense uit verskillende kulture en taalgemeenskappe. Toneel 4 (die keuse van ondersteuning van ´n Saak) en 5 (die keuse om ´n einde te maak aan ´n mens se lewe) is egter alleenlik deel van Cor se geskiedenis!

HH: Jy het al by geleentheid gesê dit is dalk ´n voordeel dat die meeste groot geeste wat jy in boekvorm ontmoet, ´n ander taal praat as jyself, dit laat jou met die illusie dat jy miskien nog in Afrikaans iets te sê het. In Frans of Nederlands of Italiaans of Engels sou jy dalk minder voortvarend wees. Hoe sluit dit aan by vertaalde werk?

NM: Dit is uiters moeilik om befondsing vir drama in Suid-Afrika te kry; dit sou dus wonderlik wees indien vertaalde vorms van Cor en ander dramas wat ek nog graag wil skryf, elders in die wêreld opgevoer kan word Ek sou graag self die vertalings wou doen, want dit is nog een van my passies. So sou ek twee vlieë met een klap slaan: ek sou iets te sê hê in Afrikaans, en dit dan hopelik taalkundig en kultureel verstaanbaar maak vir ´n ander gehoor (Cor, die ander van Gogh is reeds in Nederlands vertaal)

HH: Cor is ´n tipiese tragiese figuur. Sy lot is onafwendbaar. Die gehoor kry hom hartstogtelik jammer maar staan magteloos. Vertel van die koor en sy funksie in die Griekse Tragedie en hoe dit aangepas is vir ´n moderne teaterstuk.

NM: Die koor is in die Griekse tragedie met groot respek bejeën, omdat die lede alwetend was en die gawe van profesie gehad het. My koor het ook hierdie eienskappe, maar hulle word deur ´n postmoderne bril beskou. Hulle praat ook nie uit een mond nie, die koor is eintlik ´n trio van individue genaamd Vrou, Man en Vrouman (daar is dus ook kwota’s hier!) Hulle is wel anoniem, maar het spesifieke persoonlikhede: Man is waarskynlik die naaste aan die oorspronklike Griekse koorlede: hy is baie ernstig en verantwoordelik. Die akteur Hercules Nel het sy reëls absoluut met die nodige ontsag gedeklameer. Vrou gee ´n sagter, meer moederlike perspektief (Daleen het die goeie idee gehad om Vrou, oftewel Karin Scholtz, ook te gebruik as die gesig van Cor se geliefde moeder, en Karin het ´n baie warm vertolking van al die vrouerolle gegee), terwyl Vrouman eintlik komiese verligting bring in ´n ernstige stuk. Hy is byvoorbeeld op hoogte van wat in die kunste gebeur: hy tref vergelykings met ander dramas en analiseer Vincent se skilderye. Die nuweling Richard Smit het ons tydens die repetisies laat skater van die lag, maar die gehoor was so onder die indruk van Cor se tragiese lot, dat hulle nie eintlik van die geleentheid gebruik gemaak het om ´n bietjie te ontspan nie! Maar eintlik kry die publiek die idee dat die koor nie juis meer ´n funksie het nie, dat die moderne wêreld sonder die koorlede kan klaarkom. Die dramageskiedenis beweeg geleidelik weg van groot tragiese figure, en meer in die rigting van die “kleine man”, soos wat George Steiner verduidelik in The death of tragedy. Dit is daarom dat Vrouman sy “betrekking” as koorlid so vurig verdedig, waarom hy sê:

“Ek is nie juis opgelei om kommentaar te lewer op ´n werkerstragedie nie. Laat ons sê dat dit nie deel is van my posbeskrywing nie. Of dit nou die Dood van ´n Verkoopsman of van ´n Vakman is, dit is ´n wêreld wat ek glad nie ken nie. Dit spyt my.”

Want in die wêreld van die “kleine man” is daar nie plek vir ´n koor nie.

HH: Slottoneel: Koringveld met kraaie
Cor: (Byna kinderlik) Het ons nou genoeg heide bymekaar gemaak vir my konyne, Vincent? Dis mooi hier in die bos. Kom ons teken ´n kaart van Etten, sodat ons die plek altyd weer sal kry … so, so en so … Wag, ek wil nog iets byskryf (hy lees stadig, byna woord vir woord) … “Vincent en ek het dit in die dennebos geteken. Cor”. (Skor) Hoe sou jy sê Vincent, na wie aard ek eintlik, na onse Theo, of na jou?

Dialoog met ´n tikkie ironie, want Cor se graf te Brandfort is byvoorbeeld nooit gevind nie?

NM: Ja, dit was oorlog, en Cor was maar ´n “onbenullige” buitelander wat aan Boerekant geveg het. Maar miskien is dit ook beter so, dat ´n mens weet hy lê iewers in die begraafplaas, maar nie presies waar nie: dit is voedsel vir die verbeelding.

HH: Du Plessis se vertolking is skitterend belig en vol van die intieme soort tekstuur wat jou laat voel jy het Cor self ontmoet. Deur sy gemaklike rapport met die gehoor, sien jy Cor se hartseer en sy eie onvermydelike tragiese einde. Het jy in JP du Plessis ´n akteur gevind wat gestalte kon gee aan jou woorde?

NM: JP was Cor, dit was soos ´n wonderwerk. Hy lyk eintlik glad nie soos Cor nie, maar met behulp van haarkleur en grimering en die aanleer van effektiewe maniërismes (die manier wat hy sy veldhoed vervrommel het, aan sy oor gevat het wanneer hy onseker was en senuweeagtig na papier soek om die hoeveelste brief vir sy moeder te skryf) wat by Cor gepas het, het daar vir die duur van die speelvak elke aand ´n metamorfose plaasgevind. JP het ´n pragtige stem, dis miskien ook daarom dat Daleen gesê het die teks sing. Hy is ´n baie verantwoordelike, professionele akteur: hy was altyd betyds, het altyd sy woorde geken (en omdat dit byna ´n monoloog is, sal jy weet wat dit beteken!). Hy het voortdurend vrae gevra, wou presies weet wat ek met elke sin bedoel het, hoe die skilderye lyk waarna ek verwys. Met ´n antropoloog kollega, Cobus Dreyer, as gids, het ons met die akteurs Brandfort toe gery om na die konsentrasiekamp te gaan kyk en die begraafplaas te besoek. Die fotograaf Paul Alberts, wat van die Brandfort-hotel sy woonhuis gemaak het, het ons ook allerhande interessanthede oor Cor vertel. Dit was ´n wonderlike produksie, van begin tot einde. Ek weet nie of iemand weer die rol van Cor sal speel nie, maar vir my sal Cor seker altyd JP wees.

HH: Die toneelstuk getuig van goeie navorsing en kan as digte teks beskou word. Jy is jare reeds met die van Gogh familie se lewens vertroud en ´n bewonderaar van Vincent van Gogh. Hoekom?

NM: Die meeste mense stel seker in die Van Goghs belang. Die skilderkuns is een van my groot liefdes, maar Vincent was byvoorbeeld veel meer as ´n skilder: sy briewe aan Theo is waarskynlik een van die waardevolste dokumente wat ons besit oor die fases van die skeppingsproses. Hy was ´n ywerige leser, en wat hy oor die Franse letterkunde te sê gehad het, interesseer my uiteraard. Dit is ironies dat Vincent en die Franse skrywer Émile Zola op dieselfde tydstip in die Borinage was, waar Zola navorsing gedoen het vir sy roman oor die myngemeenskap (Germinal) en Vincent as evangelis opgetree en sketse gemaak het. Dink aan die illustrasies wat Vincent vir Zola kon gemaak het as hulle toe van mekaar geweet het! Maar ek dwaal af. Dit is deesdae so moeilik om iets te vind waaroor niemand nog geskryf het nie – die Internet is in hierdie opsig beide ´n seën en ´n vloek! Toe ek dus gehoor het van die bestaan van Cor van Gogh, was ek onmiddellik opgewonde. Kort daarna het een van die konferensies oor die Anglo-Boereoorlog hier in Bloemfontein plaasgevind, en een van die lesings, wat deur ´n Nederlandse historikus gegee is, het baie nuttige gegewens bevat. Feite alleen is natuurlik nie die stof waarvan dramas gemaak word nie: ek moes vir Cor gedagtes gee, gevoelens, drome, vrese, sy eie beeldspraak … Dit was die uitdaging: om die gapings te vul wat die geskiedenis gelaat het.

HH: Saam met Daleen Krige het jy Woordspel-produksies in die lewe geroep. Uit wie bestaan die produksiehuis en is julle besig aan ´n nuwe stuk?

NM: Wel, dis eintlik ´n vennootskap, en die vennote is ek en Daleen. Noudat ons offisieel bestaan, begin die lekker eintlik: ons woon soveel drama-produksies as moontlik by, op soek na akteurs wat sal pas by die karakters in wie ons nog lewe wil inblaas. Ja, ons is eintlik besig met ´n hele paar nuwe stukke, waaroor ek nie nou al die aap uit die mou wil laat nie. Oor Helena van Bethesda kan ek wel praat, want die stuk lê klaar, ons moet nog net ´n bietjie daaraan skaaf: Daleen het ´n goeie oog in daardie opsig: sy sê my waar dit langdradig raak of waar die dialoog oorbodig word. Dit is maar steeds vir my moeilik om die spreekwoordelike sonsondergang uit te sny! Ek kan wel ´n idee gee van wat Woordspel-produksies se “handelsmerk” sal wees: ons wil nuwe werk opvoer (sommige stukke het ´n Suid-Afrikaanse tema, ander is geïnspireer deur die Franse geskiedenis), maar ook goeie stukke uit ander tale (veral uit Frans) vertaal. Daar is byvoorbeeld goeie dramas uit Wes-Afrika waarvoor ek my tande slyp.

Naòmi Morgan is professor in Frans aan die Vrystaatse Universiteit waar sy literatuur- en kultuurstudies doseer. Sy het ook ´n graad in Italiaans. Naòmi was in 2001 op die kortlys van Sanlam/Insig se Groot Romanwedstryd vir haar manuskrip Nog ´n kamermeisiedagboek. Haydee het die onderhoud per e-pos met haar in Bloemfontein gevoer.

Bydrae: Haydee Hollander

Foto: JP du Plessis as Cor van Gogh. (foto deur Charles Corbett)

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar