Lefra Produksies het ‘n opwindende nasionale revuekompetisie, REVUE SA 2015, bekend gestel.
Hierdie lekker revuekompetisie vir laer- en hoërskole sal vanaf 12 tot 18 Oktober 2015 by Carnival City se Big Top Arena uitgespook word. Vir enige navrae oor die revuekompetisie of om in te skryf, kan Lefra Produksies geskakel word by 011 815 3000 of stuur ‘n epos aan navrae@revues.co.za. Volledige inligting verskyn ook by www.revues.co.za.
Frans Swart, Hoof Uitvoerende Beampte van Lefra Produksies en waar die idee van ‘n nasionale revuekompetisie ontstaan het, sê dat hy baie opgewonde is oor die projek. “Laerskole en hoërskole spandeer soveel tyd, geld en energie aan hulle jaarlikse revue. Ek het al baie van hierdie revues gesien wat baie na aan professionele produksies se standaard is. Dit was dan altyd vir my hartseer dat daar nie ‘n verdere lewe vir hierdie wonderlike revues is nie. Juis daarom het ons by Lefra besluit dit sal uitstekend wees om hierdie revues nog ‘n slag te kan opvoer,” sê Swart. Hy glo ook dat REVUE SA 2015 ‘n wonderlike forum sal skep vir skole om na mekaar se eie werk en produksies te kyk en te geniet. “Dit gaan ook vir skole die geleentheid bied om te sien waar hulle eie standaard lê deur dit met ander produksies te vergelyk.”
Slegs 30 laerskole en 30 hoërskole is aanvanklik gekeur om deel te neem aan REVUE SA 2015.
Swart sê dat die kompetisie op ‘n uitklopbasis aangebied sal word. “Ons wil ook ‘n graag ‘n realiteitshoek aan die hele kompetisie gee. Die belangrikste egter is dat elke aand ‘n wonderlike vertoning van dans, sang, beweging en kleur moet wees. Ons besef maar te goed dat REVUE SA 2015 ‘n kompetisie is, maar ons glo ook dat dat skole, onderwysers, afrigters en leerders die geleentheid sal gebruik om nuwe vriende te maak en ook die geleentheid sal gebruik om van mekaar te leer.”
Groot pryse is op die spel en elke deelnemer sal ook ‘n sertifikaat van deelname ontvang. Bekende beoordelaars en aanbieders sal ook ingespan word om van REVUE SA 2015 ‘n groot sukses te maak. REVUE SA 2015 word ook volledig verfilm met moontlike latere uitsending op kykNET NOU! REVUE SA 2015 word aangebied met die vriendelike samewerking van Stuttaford van Lines en McCarthy Volkswagen Arcadia.
Vir meer inligting oor REVUE SA 2015, kontak asseblief vir Lefra Produksies by 011 815 3000 of stuur ‘n epos aan navrae@revues.co.za. Besoek gerus ook ons webtuiste, www.revues.co.za vir die nodige inligting. Kaartjiebesprekings vir REVUE SA 2015 kan gedoen word by Computicket 0861 915 8000. Groepe meer as 10, skakel asseblief vir Monica by 011 815 3000 of epos aan admin@lefra.com.

