Roekeloos
10 April
Stap saam met die toneelgeselskap van ComNet deur die geskiedenis van die dorp, Clanwilliam.
Bekendes soos Professor Bleek van die Universiteit van Rooibos en Antie Ubuntu maak weer hul buiging op die verhoog.
Die professor het ’n probleem: Hy moet die geskiedenis van die dorp neerpen, want die dorp word mos 200 jaar oud. Maar hy ken nie sy eie storie nie. Hoe kan hy dan ander mense help om hul storie neer te skryf? Hy het geen idee waar hy hoort nie.
Antie Ubuntu, met haar goeie hart en empatie vir almal, spring in om met ’n klomp “gellieblikke” te help. Dit is egter nie so maklik nie … die strydlustige San en die macho Khoikhoi bots oor weivelde, die fynbesnaarde Engelsman wat so suffer in die hitte en die raakvatter Voortrekkervrou sê mekaar die stryd aan, terwyl Olof Bergh kort-kort na sy hipflask gryp, die mooi slavinnetjie rondjaag en droom oor die volgende avontuur.
Dis die slinkse, heksagtige ou tante, Miesies Ankes, wat jou sal laat besef: alles is nie altyd soos dit op die oog af lyk nie en almal is nie ewe bevoorreg nie …
Gaan die professor en Antie Ubuntu dit ooit regkry om die dorp se storie neer te skryf? Kom wals, riel saam met die Betjies van Betjiesfontein, doen volksdanse of hiphop saam met die tieners! En vra jouself dan af: Wat is jou storie? Wat is óns storie? Die produksie is ’n vrolike mengsel van komedie met ’n paar ernstige oomblikke, dans en physical theatre.
Regie: Angelo Cloete
Teks: Alicia Erasmus
Choreograaf: Richard Antrobus
Genre: Komedie
Ouderdomsbeperking: Geen
Plek: Clanwilliam Senior Sekondere Skoolsaal, Clanwilliam
Datum: 30 April, 20h00
Tydsduur: 60 minute
Kaartjies: R20 vir volwassenes, R10 vir skoliere – Onbespreekte sitplekke
Besprekings: Cederberg-feeskantoor by 027 482 1090